Sunday, May 18, 2014

Golf van Amvrakikos. Preveza.

18 Mei 2014. Sondag.

Vonitsa tot Preveza

Die nag word dag en ons vertrek. Ons albei dink aan die anker, maar dit trek op sonder probleme. Ons slaak 'n sug van verligting en toe werk die dieptemeter nie! Archie het die vorige dag weer iets geinstalleer, 'n kragpunt by die boksding waar die instrumente is en die helm aan vas is. Hy maak daar en dan, sommer so op die bewegende Maja, die boksding uitmekaar en fieks die los draad. En daar werk die dieptemeter. Weer slaak ons 'n sug van verligting. Dit lyk my ons slaak net heeltyd!

Dis koud as die wind waai, want daar is jou werklik nog sneeu op die berge.


Sneeu op die berge

Ons sien weer verafgeleë dolfyne wat spring en speel en so kom Preveza (38° 57.465 N, 20° 45.310 O) al nader en nader, net 8.3 myl. Die wind waai net liggies en ons anker en meer maklik vas. Ons sit lekker langbeen en kyk die lewe uit die hoek van die boot en daarna gaan stap ons, word ons deel van die bewegende lewende lywe op die kaai.

Venesiese kloktoring
Klein tuin
Kom aan boord
Terug aan boord








Golf van Amvrakikos. Vonitsa.

17  Mei 2014. Saterdag.

Lefkas tot Vonitsa

Alles kom tot 'n end, tot ons skuiling in Lefkas. Daar is 'n tyd om te kom en 'n tyd om te gaan. Ons vertrek 08:35 om betyds te wees as die brug
oopmaak.

Lefkas Marina

Ons gaan 09:00 deur die brug. Hulle het, soos Klara Viljee in die fliek, die sandduin (die een wat die see van die kanaalingang skei) verskuif, so die keer is niks "hair raising" nie, veral nie van die suidekant af nie.

Foto van hoe die sandduin verskuif is
St Mavros Fort

Voor ons, anderkant die see, kan ons al vir Preveza sien. Dis 9 myl tot daar. Ons plan is om by die dorpskaai vas te maak.

Die wolke in die lug is 'n visuele plesier, wat stadig maak seker verander na 'n grysheid en nog later na waterdruppels op ons lywe. Dit reën plek-
plek en soms hier en dan elders.

Dreigende wolke

Die son skyn by Preveza, maar ons besluit ons vaar verby en gaan die Golf van Amvrakikos binne en vaar tot by Vonitsa, waar ons wil anker. Langs die pad sien ons baie dolfyne, maar hulle swem en speel al te lekker in die verte. Ons wil hulle nader lok en speel op my mondfluitjie en fluit, maar puur verniet. Ons moet maar met die verte tevrede wees.

Naby Vonitsa

Ons kom by Ormos Ay Markou,'n baai naby Vonitsa waar ons wil anker. Die boek sê dit was lank gelede 'n mosselplaas, pasop vir ou mosselplaas-rommel. Ons passop toe maar vir die rommel, maar Maja se anker wil net die byt nie, nee sleep net agter haar aan. Ons gooi vyf keer sonder sukses anker, maar ons vermoed ons het 'n ander tipe anker nodig om in die fyn slymmosselmodder te anker.

St Markou Baai
Vyf keer! Geen sukses nie.

Toe gaan ons maar na Vonitsa se dorpskaai (38° 55.321 N, 20° 53.099 O), 'n hanetree van daar af. Eienaardige besigheid, die dorpskaai. Daar is vasmeertoue, maar die bote anker ook. Dit beteken dat daar sementblokke of kettings onder die water is, waaraan die vasmeertoue vasgemaak is. Dit beteken ook dat jou anker aan die blokke of kettings kan vashaak. Die meeste bote is vasgemeer én geanker!?


Na'n onderonsie tussen ek en die kaptein en 'n vrou wat woes op die kaai beduie, gooi ons anker en tru in die spasie. Ons maak ook met die vasmeertou vas, en bekommer ons oor die dag van môre.

Ons stap in die klein dorpie rond. Daar is ook 'n kasteel, maar dis altyd toe.

Kaai en kasteel
In ewewig

Dis grafstil in die nag. Nie 'n roering van Gus se kant af nie.

Friday, May 16, 2014

Lefkas. Skuilplek.

15 & 16 Mei 2014. Woensdag & Donderdag.

Die wind waai sonder ophou. Soms sterker, soms sterkste. Dis koud en onplesierig. Die vier vriendelike Skotse Britte langs ons (dis nou die wat
aan die ander bote vasgesit het) gee darem bietjie warmte aan die plek met hulle vrolike lag en gesels, met ons en ook onder mekaar.

Toe ons die moed kry om ons neuse buite Maja uit te steek, gaan ons Lidl toe. Dis 'n supermark wat baie ingevoerde goedere verkoop. En winskopies! Die gemors is net dat dit gewoonlik ver uit die dorp is. Met die rugsakke op ons rugge, sit ons toe af soontoe. Dis 2 km se stap. Maar dit is deur en deur die moeite werd. Ons koop Taramasalata teen 'n goeie prys. Dis 'n pienk slaaismeer wat met viseiers gemaak word. Maggies, dis lekker. Ek dink toe aan ons vriende, Christa en Nick, wat vreeslik daarvan hou. Ons stap die pad terug met ietwat swaarder rugsakke!

"Nee Archie, los!"

Met al die winskopies veilig in die kaste, durf ons die dorp aan. Die hele dorp is ook in die 1953 aardbewing vernietig en is herbou. Om elke hoek en draai loop ons in ons Britte vas. Dan is dit lag en skerts.

Archie en Lefkas Harley!
Straatkafee
Groentewinkel
Grieks-Ortodokse Kerk

Archie loop nooit by 'n bootwinkel verby sonder om in te gaan nie. Die skroewe en goetertjies trek hom soos 'n magneet. Dan koop hy silwer
goedjies met rooi steeltjies, en ander met blou agterkante, swart rubberige goedjies en áltyd skroewe. Hy kyk en snuffel en vroetel met alles in die winkel. Hy wys ewe opgewonde vir my ook van die goed en dan sê ek: "Ja, dit is mooi" of "Wat is dit?"

Ek hou van die toue wat hulle in die bootwinkels verkoop. Dikkes en dunnes en dit kom in allerande mooi kleure. Ek wil altyd net toue koop.
Archie hou ook van die toue, so dit kos selfbeheersing om mekaar nie op te sweep om te koop nie.

Ons dwaal af van die geroesmoes van die hoofstraat en loop in die stegies rond waar die gewone Lefkassers bly.

Wasdag
Huis in 'n stegie

Dit word koud en ons gaan terug Maja toe. Dan begin Archie om alles wat hy gekoop het, te installeer. Dis tools en bore en hy krap die hele boot om. As die ding dan in is, maak hy die huis weer netjies.

Die weer raak beter, maar Gus waai maar een stryk deur. Daar is geen seilbote wat in en uit die marina gaan nie. Almal is in hulle bote en wag op beter dae. Ek weet nou presies waar kom die gesegte, "Ek wag op beter dae" vandaan. Dit kom van seiljagte wat wag dat Gus moet gaan lê, sodat hulle weer op die see kan uitgaan.

Sunny Sailing se charter bote
Lefkas Marina

Gus waai die hele nag en vroegoggend (Donderdag) val daar 'n hengse bui reën.  Dinge lyk darem nou baie beter, veral as jy suid wil vaar, maar ons wil noord vaar. Daar is weer beweging op die water en sommige jagte pak die pad weer aan.

Ek is bly ons vaar nie vandag nie, want ek skuil te lekker!




Wednesday, May 14, 2014

Lefkas. Waai Westewinde waai.

14 Mei 2014. Woensdag.

Tranquil Bay tot Levkas

Die nag waai die wind nie. Ek slaap die hele nag deur. Hy verras ons deur eers die volgende oggend met oorgawe te waai. Oral staan jagte op
anker. Almal draai rondomtalie. Ons kom taamlik naby ons buurboot, maar alles is veilig. Ons anker hou en syne hou.

Ons hoor iemand skree. Agie wat ek is, storm ek dadelik boontoe om te sien wat besig is om te gebeur. Dis twee bote wat teen mekaar skuur. 'n
Man op 'n dingy jaag soontoe uit 'n ander riging en skree: "Wake up, Wake up!" Die kleiner jag se brandwag is dadelik op die dek en probeer die saak red. Die kaptein van die groter jag word eers na 'n ruk wakker van die geskree en hy en sy vrou begin dadelik met regstellende aksie. Anker word opgetrek en die groter jag gee pad en gooi sy anker op 'n ander plek. Sy anker moes gesleep het. Almal is toe éérs op hul hoede.

Skuur teen mekaar

Die groot winde kom eers vanaand en teen 10:45 bedaar Gus se neef bietjie en ons vertrek na Lefkas (38° 49.900 N, 20° 42.748 O), 8.3 myl,
twee ure verder. Die eerste ruk is dit net 'n ligte wind van agter, maar ons en Gus kom toe saam by die Lefkaskanaal aan. Gus kom natuurlik op
sy ou Noord-Weste pad en waai reg in ons gesigte. Dis koud en onplesierig. Ons vaar stadig, met 'n sterk wind van voor,  in die nou kanaal na die marina.

Roeiers in die kanaal

Die vasmeerman wys die plek aan en genadiglik gee Gus ons 'n blaaskans en met net bietjie moeite meer ons vas.

Die Britte kom 'n kwartuur na ons hier aan. Gus is uit sy nate. Hy waai die arme mense teen die bote aan die oorkant vas toe hulle probeer intru
en hulle sit toe vas aan die vasmeertoue. Die hele bemanning stoot en trek, maar verniet. Hulle kom nie los nie. Die vasmeerman spring in sy
rubberbootjie en na 'n gesukkel het hy hulle met sy tou losgetrek. (Michelle, onthou by Murter in Kroasië?). Hulle probeer weer inkom en met hulp van alle kante is hulle uitasem, vas en baie verlig. Hulle kom van Paxos, omtrent 39 myl van hier, om teen die wind te skuil. Sê hulle het gisteraand nie 'n oog toegemaak nie, nagwaak gehou.

Trek los!

Die seiljagorkes tree vanaand in Lefkas Marina op. Vlae wapper, toue klapper, maste roer en raas, windopwekkers draai, jagte skommel en wieg, water klots en Gus huil. Geluide vul die hele marina.

Archie steek sy kop by die deur uit en sy opmerking vat alles saam:" But it is miserable outside!"

Die weer is dik

Tuesday, May 13, 2014

Tranquil Baai. Lefkas Eiland.

13 Mei 2014. Dinsdag.

Kioni tot Tranquil Baai

Die winde van verandering kom môre.

Hier in die Ioniese See, is Gus 'n Noord-Westewind. Hy waai meeste van die tyd uit dié rigting. Die afgelope tyd waai sy neef, die Suidewind, hier.

Môre-aand gaan die winde draai en dan daan Gus sy geregmatige plek weer inneem en hy gaan stormsterk aan die oop see se kant waai. Ons
moet nou koers kies na 'n beskutte plek tussen die eilande waar ons weg is van sy woedende gewaai. Dis waarom ons na Lefkas Marina oppad is, maar vanaand slaap ons in Tranquil Baai oor (38° 42.194 N, 20° 42.758 O). Die naam sê alles.

Ons vertrek 08:30 en die Suidewind waai lekker van skuins agter. Ons span albei seile, en ja Michelle, ons seil toe rêrig. Net met die seile en
nogal vinnig ook, 5.5 tot 6 knope! Dis te heerlik.

"Ja Michelle, ons seil!"

Oral is jagte besig om iewers heen te seil. Almal (die wat weet) met die wete dat hul bestemming genoeg skuiling sal gee, Woensdagnag en veral Donderdag.

Ons seil die grootste deel van die 16.8 myl. Almal seil, dis net wit wapperende seile wat bol in die wind.

Bedrywige besigheid
Kanaal tussen Meganisi- en Lefkas Eilande
Die seile bol
Lefkas Eiland

Ons baai is by die dorpie, Nydri. Dis pragtig hier en wemel van seiljagte wat kom en gaan.

Nydri aan die voet van die berge

Kioni. Ithaki Eiland.

12 Mei 2014. Maandag.

Poros tot Kioni

Ons vertrek uit Poros en vind ons pad na Kioni (38° 26.973 N, 20° 41.468 O) op Ithaki Eiland.

Poros se poort

Daar's geen wind. Dis onheilspellend stil. Gus (die wind) is nêrens te sien nie. Lê seker êrens en onheil uitdink. Daar is hoeka gerugte van winde wat aan die kom is.

Ons prrr-prrr die hele pad. Die sussende geteem van Maja se motor maak ons lomerig en lui. Myl vir myl, knoop vir knoop lê ons die 20 myl af. Die pad voel vreemd eensaam. Ons albei staar oor die waters, ver in die verskiet, besig om gedagteloos te dink, oor iets. Oor niks.

Kioni se kaai kom in sig, en ruk ons terug na die hede.

Kioni 

'n Man staan slaggereed om ons te help en ons meer vas.  Ons gaan stap in die dorpie, as jy dit so kan noem. Dis een van daai plekke wat eintlik nie 'n plek is nie. Daar is meer huise as mense hier, want baie inwoners het na Australië en VSA geimmigreer. Dit het die 1953 aardbewing oorleef en is nou 'n bewaringsgebied.

Ons eie bankie
Kattekaai
'n Egte dokkafee

Die man langs ons praat net wind. Ons moet ons seilprogram aanpas om 'n plek te soek waar ons veilig teen Gus is.

Dis amper volmaan en die maan versamel 'n kring vog om hom. Ons gaan slaap en dit is steeds windstil ...











...

Sunday, May 11, 2014

Poros. Kefallinia

11 Mei 2014. Sondag.

Zakynthos tot Poros

Gelukkige Moedersdag, Ma!

Blomme vir Ma

Ons vertrek 06:20, amper voor hanekraai uit Zakynthos, eers na die Blou Grotte, en daarna na Poros (38° 08.806 N, 20° 46.777 O), op Kefallinia Eiland. Dis 31.1 myl tot daar, sewe ure se vaar.

Stadig klim die son uit die see, glip agter die berg uit en speel wegkruipertjie met die wolke. Hy gooi sy glans oranje-skel oor die water en laat val vlamtonge in die rimpels van die dimpels.

Sonspel

Ons sien iets bruin in die water dryf. Ek sukkel nog om die slaap uit my oë te kry, druk die kersgeskenk-verkyker voor my oë, fokus met inspanning en daar sien ek dit. 'n Tamaai groot skilpad. Op sy eie, alleen. As nou die dag se skilpad Skillie heet, is díé een se naam verseker Skulla. Hy swem rustig, sonder om 'n oog te knip verder. Hy verwerdig hom nie eers om vir ons te skrik of uit te draai nie. Die wêreld en die volheid daarvan, behoort aan Skulla. Ek dink hy is seker nog ouer as my pa.


Skulla


Ek is toe wawyd-wakker en kyk grootoog vir nog skilpaaie, maar sien niks. Dis windstil en ons prrr verder. Die see is so glad soos 'n spieël.

Ons volgende mikpunt is die Blou Grotte. Ons kom daar en dis die mooiste Moedersdaggeskenk wat ek kan kry. Dis oorweldigend mooi. Die water blou, die rotsformasies, wel ek het nou nie eintlik mooi woordjies om dit te beskryf nie. Ek sien net, dis blêrrie mooi. Archie draai om en ons vaar weer verby, net om weer en weer te sien.

Blou Grotte
Blou Grotte

Ons skeur ons met moeite los van die mooi en vaar verder na Poros. Dis 'n lang, amper eensame pad en na 'n ewigheid, kom ons daar aan.

Kefallinia

Daar is reeds twee ander jagte vasgemeer, maar die dieptemeter skree sy hart uit oor die vlakte, eintlik die gebrek aan diepte, van die kaai. Dis egter veilig en ek gooi anker, Archie doen sy ding, die manne op die kaai sit handjie by en ons is vas. Waar's die gesukkel van die ander dag?

Poros
Oppad dorp toe

Daar's alweer gerugte van sterk winde en almal gaan na plekke vir skuiling teen die wind wat Woensdag kom. Kaptein Arch het ook al klaar vir ons 'n ontsnappingsroete uitgewerk en ons sal Dinsdagaand, of Woensdagoggend die skuilplek in Lefkas Marina bereik.