Thursday, August 16, 2018

Francois en Roelien.

Francois en Roelien.

Roelien en Francois

Dis die eerste keer dat Francois en Roelien vir ons op Maja kom kuier. Ek en die kaptein het nogal gewonder hoe die twee, veral Francois, die bootlewe gaan ervaar.

Francois.
Francois

Wel, Francois is 'n kind wat  bad voor hy gaan gym. (Hmmm, wonder hoe gaan hy die stort geriewe op Maja ervaar ...). Hy het ook geen benul van reël 13 ("Die yskas kan net 'n beperkte aantal bier, wyn en koeldrank koud hou. ... Daar is nie ys aan boord nie.") Hy gaan koop ys en die mense verkoop net groot pakke ys. Dan word die ys in die groot kastrol gesit en met my dek-kombers toegemaak. Nou het ons ys! Dis nou vir gin en tonic ens. Later drink ons die yskoue gesmelte water. Dis vrekwarm hier.

Francois het gou op die boot aangepas en dit vreeslik geniet. Heerlik geswem en altyd in Dinkie land toe gegaan. Onder andere om ys te koop.

Die plek wat hy die meeste geniet het, was Symi, met sy pragtige huise en geboue. Die boek sê nie verniet dat almal verlief raak op Symi nie.
 
Symi

Francois se beste ervaring was die laaste dag se seil na Marmaris. Hy en Roelien het die seil alleen beheer en "getack". Dit was vir hom baie opwindend om redelik vinnig te beweeg sonder 'n enjin, net met die wind.

Seil

Roelien.
Roelien

Roelien het sommer dadelik tuis op Maja gelyk. Sy was seker een van die beste "cold beverages" skinker ooit. Sy het heerlik in die see geswem en was altyd gereed om te help waar sy kan. 

Roelien se gunsteling plek was ook Symi. Sy sê: "Dis poskaart-mooi en voel of mens in 'n skildery is." Sy het heeltyd net gesê dat sy op Symi sal kan bly. Sy het behoorlik verlief geraak op die plek!

Symi

Die ervaring wat sy die meeste geniet het, was die anker op Keçi Bükü. Sy skryf: "Om die aand op anker kon spandeer met 'n mooi uitsig al om mens en vir die eerste keer so op die water te slaap." Dit was vir haar baie besonders om sommer so in die middel van die baai op anker te slaap met water reg rondom haar. Met 'n bonus van die ou kasteel op die koppie en om op die sandbank te loop.

Keçi Bükü
Roelien by Keçi Bükü
Maja op anker

"Baie dankie vir die kuier julle twee. Dankie vir al die bederf en ys. Julle kan maar weer kom!"

Marmaris. Koebaai julle.

15 Augustus 2018. Woensdag.

Die laaste kapteinskoffie. Die laaste dag. Vandag gaan Francois en Roelien weg, dan is ons weer alleen leen leen.

Alles is gepak (behalwe die badsakkie wat hul vergeet het) en hulle is reg om ba die veeerboothawe te stap. Ons stap saam en toe is dit tyd om te groet. Hulle gaan na Rhodos vir die begin van hul Griekse en Italiaanse vakansie. Na 'n laaste waai deur die venster, is hulle weg.

Mooi balanseer
Trek skoene aan
Gerreed
Sak en pak
Koebaai julle
Marmaris baai
Marmaris kaai
 
Ek en Archie stap alleen terug. Marmaris het 'n skitterskoon oggendgloed wat vergoed vir die kinders se weggaan. Dis asof die dorp sê: "Toemaar, dis nie so erg nie." Ons kyk en waardeer die mooi dorp en gaan terug na 'n leë Maja.
 
Archie begin dadelik te werk aan die kabels. Haal die oues uit, koop nuwes en sit dit terug. Dit is omtrent 'n dag se werk. Die arme kaptein sweet omtrent 3 liter water uit. Dit bly warm.

Werk aan kabels
Vissershawe    

Die aand bring 'n welkome koeligheid oor Marmaris. Ons eet 'n ligte koue wat bestaan uit salm en slaai en geniet langbeen die lewe op die kaai van die besige Marmaris.
 
Sit langbeen op die dek

Marmaris.

14 Augustus 2018. Dinsdag.

Çiftlik tot Marmaris

Archie neem vir Maja pragtig tussen al die snoettoue deur en ons vaar na Marmaris, 13.7myl. Dis Francois en Roelien se laaste vaart. Dit het so vinnig verby gegaan.

Çiftlik

Ons vaar al geselsend voort. Vorentoe, altyd vorentoe. Toe ons on die draai is, begin Gus te waai en die kaptein gee die opdrag: "Span die seile!" En Francois en Roelien span daai genoa. Die wind waai van voor af en hulle moet drie keer "tack". Dis wanneer jy die genoa laat deurswaai na die ander kant toe om van rigting te verander. Francois en Roelien kwyt hul goed van hulle taak. 

Veral Francois geniet die geseilery vreeslik. Roelien sien vliegvisse en later sien ek ook twee. Na ongeveer 'n uur se seil, trek hulle die genoa in. Hierdie Marmaris Baai kan bedrywig raak met al die toeriste bote wat uit die hawe vaar.

Francois agter die helm

Francois is agter die helm en moet tussen die aankomende en links- en  regskomende verkeer deurvleg. Later neem die kaptein oor en ons vaar na Netsel Marina om diesel in te gooi en swartwater uit te pomp.
Seerowers

Ons vat 'n kans om in te kom by die dorpshawe en twee manne op 'n dinghie onderskep ons en vra of ons per radio 'n plek by die hawe gekry het. Archie deel hulle mee dat ons radio effens stukkend is en hulle bel gou self met die selfoon. En wat 'n geluk! Hulle het plek vir een nag, miskien twee. Nou hoef ons nie na Yacht Marine (wat baie vêr van die dorp af is) te gaan nie. Hier is ons loopafstand van die dorp af.

Ons ontmoet Neil se vriend, Ian Knipe, wat ons kom verwelkom. Wat 'n heerlike ontvangs. Hy gee vir Archie baie raad. Hy kry 'n man wat na die radio kom kyk en gaan vind uit oor ankerketting. Hy gee ook vir ons die naam van 'n restaurant waar ons kan gaan eet.

Archie koop 68 m ankerketting en merkers vir die verskillende lengtes. Ek, Archie en Francois merk die ketting en die twee manne kry die nuwe anker in die ankerboks. Dis swetende harde werk. 
Trek ou ankerketting tot op die kaai
Sit nuwe ankerketting in
Laai ou ankerketting op

Die aand neem Francois en Roelien ons uit na die restaurant wat Ian aanbeveel het, en wat 'n goeie keuse! Ons moet eers wag voor ons 'n tafel kry. Dis net mense, die plek is propvol. Na twintig minute se wag, kry ons'n tafel en eet heerlik. 

Archie eet 'n pide, Francois en Roelien 'n bord vol verskillende soorte lamsvleis en ek eet lamsrib. Die kos is heerlik! "Dankie Francois en Roelien vir die lekker bederf. Ons waardeer dit baie."
Ek en Archie
Francois en Roelien
Lamsbord

Die twee jonges lê langbeen op die dek en beskou die kom en gaan van die naglewe op Marmaris. 'n Baie goeie einde van die eerste been van dié twee se lang vakansie.

Çiftlik.

13 Augustus 2018. Maandag.

Serçe tot Çiftlik

Die kinders se tyd raak nou min. Vandag is dit 13.7 myl na Çiftlik.

Nuwe bemanning
Nuwe bemanning

Çiftlik is geleë aan die voet van 'n pratige vallei. Hoë berge voltooi die prentjie. Ons gaan na ons gewone plek, Mehmet Place. En soos gewoonlik waai die jongetjie die vlag en wys ons plek aan. Al wat ongewoon is, is die feit dat Mehmet se restaurant kaai vandag vol is. Daar is wel 'n plekkie tussen twee bote vir ons.


Archie tru en die snoettoue steek so vêr uit, dat die bure se snoettou onder Maja beland. Die buurman moet toe die snoettou slap maak, sodat dit nie in ons rudder of kiel vashaak nie. 
Hulle sit behoorlik vas
Archie tru weer, ek gryp die tou en Francois help om die tou aan Maja se snoet vas te maak. Roelien keer af en help met die agterste toue. En siedaar, ons is vas. Daar is water en elektrisiteit op die kaai en die restaurant het ook 'n stort. 

Francois en Roelien vat dadelik die pad en verken die plek. Later gaan stap ons en kyk na Maja in die hawe. Dis nog steeds vrekwarm hier in Turkye.
Uitsig oor die baai
Archie, Francois en Roelien
Restaurant kaaie
Çiftlik.
Vlamkop
Ons al vier gaan neem 'n lekker laaang stort. Ons baai ons liggame onder die luuksheid van 'n stortkop wat onbeperkte druppels water oor ons stort. Ons was van kop tot tone en ruik daarna heerlik kosmeties en aromaties. Splinternuwe silwerskone sikspense!

Ek moet sê, dit het vir my gevoel asof ek in 'n bewegende stort gestort het en Francois en Roelien stem saam. Ja, as mens so lank op 'n bewegende seiljag lewe, beweeg die land later ook.

Ons maak gereed om te gaan eet. Dit werk mos so, as jy by 'n restaurant kaai vasmeer, moet jy by die restaurant eet. Ek gee glad nie om nie, inteendeel, ek sien vreeslik uit daarna!
Reg vir ete
Francois, Roelien en ek
Mehmet Place
Ons het 'n heerlike tafel. Die bediening is baie goed en Francois bestel lam en ons drie seekatbredie. Die lyk smaaklik en is heerlik. Tot die fynproewer, Archie, eet heerlik. 
Seekatbredie
Lam
'n Aand om te onthou. Heerlike kos, 'n heerlike kuier saam met ons kinders in 'n pragtige omgewing.

Serçe

12 Augustus 2018. Sondag.


Selimiye tot Serçe

Selimiye se water is 'n spieël toe ons vertrek na Serçe, 23.5 myl. Ja, dis nogal 'n lang pad.

Naby Selimiye
 
Ons vaar deur die eilandjies, verby 'n klooster wat in vergange se dae aan die Grieke behoort het. Dan vaar ons om Kızıl Burnu en later Karaburun en toe eers is ons om die draai.
 
Oggendskoot
Verlate klooster op Kameriye Eiland
Op pad
 
Ons kyk eers of Katal Bükü oop is, want daar is net plek vir een boot. Maar helaas, 'n verdomde gullet staan groot in die baai. Toe gaan ons maar na Serçe.

Dis weer line ashore. Ons maak reg en ek gooi anker. Hy byt nie en ons gooi weer. Die keer byt hy met mening. Francois swem met die tou land toe. Maar helaas, die wind waai ons en die tou is te kort.

Dis 'n gesukkel en Francois swem terug na Maja. Die buurman kom met sy dinghie aangejaag en laai vir Francois en die tou in en jaag klippe toe. Hy is omtrent my held. Toe is ons vas en ons kan die ander tou self gaan vasmaak.
 
Uiteindelik vas
Tweede tou
 
Ou Gus waai dat dit bars, maar Francois en Roelien klim in Dinkie en gaan verken die omgewing. Hulle bly sommer lank weg. Francois sê 'n koei wou Dinkie hap! (Ek wonder of hy nie 'n paar happe ingehad het nie!). Hulle kom al hoppende terug. 
 
Serçe baai
Francois en Roelien
Honger koei
Serçe baai
 
Die aand eet ons salm en slaai wat Francois en Roelien voorberei vir aandete.