![]() |
Vlycho Baai tot Vathy |
Die see is weereens 'n spieël. Dis stil, dis baie stil. Ons trek anker op en vaar verby die skeepswrakke wat verwoes lê.
Skeepswrakke |
Verwoesting |
Daar was in September 2011 'n vreeslike storm in die baai. Dit het begin met donderweer en bliksemstrale so teen 18:30. Die wind het 72 knope gewaai en het versterk tot 100 knope met tye. Golwe het gegroei tot 'n meter hoog in 'n baie beskutte baai.
Vir ongeveer 45 minute het die storm voortgewoed, met reën en sproei wat die sig so verswak het, dat niemand iets kon sien nie. Twee dosyn bote wat in die skeepswerf was, het van hulle stellasies ("cradles") afgewaai.
Ten minste agt bote het gesink en 'n catamaran het omgewaai. Verskeie seiljagte se seile het afgerol en is beskadig. 'n Klomp bote se ankers het aanmekaar gekoek. Dit was 'n wonderwerk dat net een man sy lewe verloor het en dat daar nie meer ongevalle was nie.
Gesink |
Ek is baie dankbaar dat ons so 'n vreedsame nag beleef het.
Ons stop by Spartochori en Leon en Dirk stap gou boontoe om die dorpie te gaan besigtig.
Reg vir die dorp |
Ons sit in die Taverna en luister hoe die flotilla leier met sy mense praat. Hulle voorspel reën en winde vanaf 15:00. Toe Leon en Dirk terugkom, vaar ons verder na ons eindbestemming, Vathy (38° 39.823 N, 20° 47.107 O), 7 myl.
Spartochori |
Dis baie bewolk en die wolke raak swaar.
Oggendskoot - Bewolk |
Ons het ook net klaar vasgeanker, toe die eerste sagte reën begin val. Gedurig kom daar nog jagte in en Archie en Leon sit 'n handjie by met die vasmeer. Die kapteins is te dankbaar vir hulle hulp in die wind.
Vasmeermanne |
Dit reën met tye harder en met ander tye sagter. Leon en Dirk gaan stap en ons gaan stap ook later. Dit dreig heeltyd om weer te begin reën.
Uitsig oor Vathy |
Klein kapel langs die baai |
Visnetdobbertjies |
Terug by Maja begin Gus te waai. Die boek sê as die Noordweste wind waai, rol die golwe die baai binne en dit kan "bumpy" raak. En wil jy nou meer, die Noordweste wind waai. En sowaar, Maja het 'n geweldige wip in haar romp. Al die seiljagte wip op en af en oral staan kapteins en ander bemanningslede op hulle bote wat die kat uit die boom uit kyk.
Die Italianer langs ons besluit hulle het nou genoeg gewip, hulle waai. Trek anker op en daar is toe sowaar 'n ankerketting vasgehaak aan hulle anker. Toe is Archie en ons bure aan weerskante op die snoet van hulle bote om te sien wie se anker dit is. Almal se ankers is nog styf, so die anker is nie deur die Italianers losgetrek nie. Toe wip almal verlig verder.
Gus waai en waai en later raak sy blaas gelukkig op, die golwe raak minder en platter en die wip al hoe minder.
Dankie tog!