21,22 September 2013. Saterdag en Sondag.
In Venesië verdwaal mens. En dis so lekker. Op ons verdwaaltogte ontdek ons nuwe stegies en hoekies en draaie wat ons nog nie vantevore gesien het nie. Almal stop en staar na hulle kaarte.
Venesië is prentjiemooi en propvol geesdriftige toeriste wat alles met bewondering gadeslaan.
 |
Propvol mense |
 |
Langs die Grand Canal |
 |
Grand Canal |
 |
Een van die baie klein kanale |
 |
Grand Canal |
Die St Marco Katedraal is besonders. Sondag woon ek die 10:30 mis by. Die kerk is stampvol. Dis vir my altyd interessant om die protestante se weergawe van die Roomse "teken van die kruis" te sien. Is dit nou op, af, links, regs? Of eers regs dan links? Of op, regs, links, af? Of hoe dan nou?
 |
Van St Marco se baie torings en dakke |
 |
Mosaïek |
Hulle gebruik baie sang in hierdie diens. Dis 'n sintuiglike belewenis. Die engelekoor sing, dis klokkies wat heen en weer geswaai word. Die reuk van wierook vul die hele plek en daar is 'n tasbare atmosfeer in die ou-ou katedraal. Die mooi is oral.
Daar is skielik 'n kakefonie van klanke wat die katedraal vul, terwyl die engelekoor sing, begin die kerkklokke luid lui. Die klokkespel oordonder die engele se stemme. 'n Sonstraal loer skelm deur een van die venstertjies en 'n streep wierook word verhelder. En ek is daar, deel van alles.
 |
Deel van alles |
Ons dwaal en verdwaal en dwaal nog rond.
 |
Ons |
Published with Blogger-droid v2.0.10