Na 'n lekker nagrus, saggies wiegend op die water, ontwaak ons met 'n stomende koppie koffie van die kaptein. Aa, lekker. Ek is geen oggendmens, en gelukkig weet my kaptein-man dit.
Gaan stap deur die dorpie en op na die kapel bo op die heuwel. Pratige uitsigte.
Tribunj se kapel |
Restaurant in Tribunj |
Eeuoud steenbruggie |
Uitsig van kapel |
Maja se bemanning |
Al weer die tou-ding (Grietjie en Bushy leer vinnig) en ons trek weg uit die Marina (soort van 'n hawe). Ons span die seile. Daar is 'n lekker windjie. Ons seil lekker, nie skeefboot nie. Ek is méér sigeuner as séilende. Ons moet 'n katrolslinger - Bushy se vertaling - gebruik om die seile styf te span (winch handle). En dit is waar alles begin het...
Ek sukkel elke keer my alie af om die ding uit die katrol (winch) te kry. En ek hét al leer vloek. Dus, elke keer haal ek die slinger uit die katrol met 'n matrooswoordjie. Ek sê die ding moet gemaak word dat 'n vroumens maklik daarmee kan werk. Bushy se lyftaal sê :"Stupid vroumens". Nou oefen ek. Druk die slinger in, draai die knoppie en probeer dit uithaal.
Sukkel, sukkel, verduidelik, stry, kaptein lewer kommentaar, Grietjie lag. Maja seil geduldig voort. Al nader aan die groen baken... Skielik sê Bushy dit is vlak. Archie kyk na sy dieptemeter. O, genade! Diepte- 0 meter. Pandemonium!
Archie skakel motor aan, Bushy vloek, Grietjie skrik. Ek kyk na die water. Ek sien net bodem en klippe! Ek gil (en ek kán gil, hoor!). Archie motor so vinnig moontlik weg van die vlak water. Op 'n stadium sê hy dat hy die bodem voel. Ons het AMPER GESTRAND.
Ons is wit geskrik en vergeet van die gestry oor die slinger en katrol.
Die wind raak flouer en Bushy fluit vir die wind om te kom. Hy is eintlik in sy hart 'n boer, hy weet van wind fluit. Ek weet darem nie, maar dit klink mooi.
Bushy in meer ontspanne bui |
Ons seil verder, tot by Sibenic.
Ou fort by rivier se mond |
Sibenic |
Vandaar rivier-op na Skradin, waar ons in die Marina gaan oornag. Dis somer in Kroasië, Elize. Ons het heerlike sonnige dae.
Dis altyd baie stresvol om vas te meer, maar wat kan ons doen. Gelukkig is die vasmeerman op sy pos, en ons wag op die belangrike handroep. Ons motor stadig na ons staanplek. Die gewone tou-stres, en ons is vasgemeer by Skradin. Ons stap rond, drink koffie.
Ek moet erken, ek hou van grond onder my voete.