Thursday, May 26, 2016

Olympic Marina. Sing seeman sing.



25 Mei 2016. Woensdag.

Tselevinia tot Olympic Marina

Tselevinia Baai lê stil en pragtig in die gloed van die oggendson. Vandag is die dag van ons 32 myl kruising verby Sounio tot by Olympic Marina, 37°41.738 N, 24°03.596 O.

Vroeg-oggend Tselevinia

Volgens die kaart vaar ons twee keer oor sulke golfies plekke. Dit beteken dat as Gus waai, kan daar groot golwe wees. Die een plek teken hulle golfies die kant en daai kant en dit beteken dat die golwe van twee verskillende rigtings kan kom. Dan het jy ’n deurmekaar see. Die leuenagtige weervoorspellings voorspel ’n agterwind van tot 15 knope. Dis ’n goeie wind om gemaklik en vinnig te seil. Die kaptein besluit ons kruis.

Ek voel soos my suster, Elize, se seun, Stephan (nou 28), voor sy eerste kleuterskool konsert. Daai kind was oral seer van spanning, van kop tot tone. Wel, my oë traan nog van gister se wind, my neus is toe, my keel is seer en ek het skeurbuik in my een mondhoek. My nek is styf en my rug is seer. My maag draai en my bene pyn. My knieë is mos in elk geval seer en ek stamp my toon.

Die wind is stil en ons vaar. Later begin Gus liggies van voor af te waai. Agterwind? Hy draai stadig en later waai hy uit die suid, so 8 tot 10 knope. Hulle het eintlik ’n westewind voorspel. Ons span seile en motorseil vir ’n ruk. Dit help ook om vir Maja meer stabiel te hou in die deinings wat van die suidekant aangerol kom. Die see het nog nie gaan lê na gister se winde nie. 

Wind eiland

Die wispelturige Gus draai later weer en waai vanuit Noordweste. Ons verander die seile en reef dit. Die deinings word al hoe groter en Gus word al hoe sterker. Dis nie eintlik die konstante wind wat my pla nie, dis die blerrie gusts, die windvlae. Dit waai 15 knope wat goed is, maar dan kom die windvlaag tot 22 knope. Dan lê ons. Die golwe rol ons rond.

Toe sing ek maar. Die kalmte daal op my neer. Die wind gust nie meer nie. Die groot golwe mis ons. Net as ek op gemak is, begin dit weer. Gus gusts. Daai kaart is reg, hier is groot golwe. Skommel-skommel en skeef-skeef seil ons verder. Dan reef ons verder. Ek klou daai helm met mening vas en draai wind-op. Dan trek Archie die tou en ons seil verder. En dan sing ek seënbedes. Ek seën my hele familie, van my Pa, die oudste, tot Lourens, die jongste.

Die see is omgekrap. Dit lyk of die deinings van agter en van die kant kom. Dis waar die twee seestrate van die verskillende windrigtings bymekaarkom en ons seil so skommel-skommel en skeef-skeef dwarsdeur die ontmoeting.

Later word Gus sterker. Weer vat ek die helm. Ons lê skuins en ek draai wind-op. Archie trek die hoofseil in. Gus is sterk genoeg dat ons net met ’n gereefde genoa kan seil. En ons seil. En ek sing. Ek sal die gesang vir Deon en Ryna sing as hulle in Junie saam met ons kom seil  en Gus waai sterk. Ek seën vriend en vyand. So tussen die gesing deur, bly ek kalm en die seil is amper lekker.

Ons seil so tussendeur die groot kanonne. Hier vaar die skepe na Athene en soms moet ons uitswaai vir die kolosse. Een staan geanker en ons vaar voor hom verby. Net toe begin hy sy anker optrek. Archie sluit die enjin aan, gee vet en ons is verby.

Gaan agter verby

Gaan voor verby

Ai, ons seil verby Sounio. Ons sou vanaand hier geanker het, maar  Gus waai te kwaai. Bo-op die berg staan Poseidon se tempel in al sy glorie. Ek en Archie lag as ons praat van 2014, toe Elize en Annette mos in Dinkie geklim het om na die tempel te gaan kyk. Hulle het mos diepsee se kant toe gewaai en moes gered word deur die Switser en Archie. Wel, julle, hier is julle tempel. Daar is ook ’n eiland met die naam “Archi”. Ons seil vir 3h30min aanmekaar. Met beter spoed as wat ons met die enjin sou kry.

Vir Elize en Annette - Poseidon se tempel
Archi Eiland (die voorste klip)

Ons gaan om die draai na Olympic Marina.  Die man op die Dinghie wys die pad aan. Archie tru pragtig in die spasie in, maar Gus waai dat dit klap. Langs ons is ’n hoë boot en Maja se staunchion (vlekvryestaal paal waaraan die tourelings rondom die boot vasgemaak word) gaan onder haar dek in en dit breek mors-af. As dit ’n seiljag was, sou Maja net teen haar gestamp het en die fenders sou gekeer het dat hulle stamp. Die boot se fenders is te hoog en ons s’n is te laag.

Ai, die ellende. Ek is amper weer lus om aan die sing te gaan. Wel, ons is vas en veilig in die Marina. Archie gaan na die marina winkel toe en sowaar, hulle het die benodigde onderdeel. Hulle moes toe net die ou gebreekte voetstuk van die staunchion afkry. Dit sal môre 12:00 reg wees.

Ek was wasgoed en nog wasgoed.

Die aand loei dit soos Gus waai. Die seiljag orkes is weer aan die speel. Ek is so bly ek is in die Marina, stukkend en al.