7
Mei 2018. Maandag.
 |
Vlikho Baai tot Spartakhori |
Na
'n heerlike stil nag word ons lui-lui wakker. Vlikho Baai lyk pragtig in
die oggendstond. Die jagte staan statig en lomerig op hul ankers.
 |
Vlikho Baai |
Maja
se bemanning is baie besig. Archie is besig om water uit die boot op te
droog. Hy vermoed die geyser lek. Sullivan vee die dek en skut die
matjies uit en ek maak binne skoon. Sowat van sindelikheid het jy
lanklaas beleef. Toe is ons gereed vir vandag se vaart.
 |
Sullivan maak skoon |
 |
Archie maak droog |
Ons het ’n kort dag vandag. Ons nuwe huis is Spartakhori,
4.6 myl, by ’n restaurantkaai. Dit beteken net een ding – ek kook nie vanaand
nie! Ons gaan uiteet!
Die anker het behoorlik gebyt en Archie en Sullivan sukkel
om al die modder van die anker af te kry. Toe vat ons die pad. Ons vaar, want
Gus is nêrens te sien nie. Ons vaar verby die privaat eilande van die Onassis
familie, Nisis Skorpios en Nisis Skorpidhi. Jy mag nie daar naby gaan nie. Dis
verbode terrein.
 |
Oggendskoot |
Sullivan is weer agter die helm. Hy kan net nie daai helm
uitlos nie. Ons vaar stadig en rustig, want ons is nie haastig nie. Die see is
kalm en plat. Dis heerlik windstil. Ons Maja prrr ritmies voort. By Spartakhori
Baai vaar ons stadig in . Ons wag vir die man van die restaurant om vir ons te
wink. Hy kom rustig aangestap en wys vir ons ’n plek aan. Die fenders is uit,
Archie tru, Sullivan staan gereed met ’n fender en ek met die boothaak. Ek gryp
die tou met die boothaak en loop vinnig agtertoe. Die kaaiman se Sullivan moet
help, want die you is swaar. Ons trek die snoettou en maak die vas. Archie is
agter doenig. Dit bly maar ’n adrenalien- belaaide besigheid om vas te meer.
Alles verloop seepglad en ons is vas.
 |
Agter die helm |
Dis ’n heerlike dag. Die son skyn vriendelik bo in die lug.
Die blou loer deur die wit van die wolke. Ons besluit dis die beste tyd om
wasgoed te was en ek en Sullivan voeg die daad by die woord. Op die drade
wapper, nee dit wapper nie, want daar’s nie wind nie, die wasgoed. Silwerskoon.
Toe gaan ons chora (’n dorp op die heuwel) toe. Ons gaan mos
altyd dorp toe. Op opper opste stap ons. Daar is straatjies en mooi vensters en
deure. Daar is ook ’n toeriste winkel en ek koop vir my skoondogter, Roelien en
vir my seun, Gerrit, mooi geskenke. Ai, maar dis te lekker om geskenkies te
koop! Dis te heerlik om in die chora rond te loop.
 |
Helder huisie |
 |
Klokkespel |
Ons kry mooi uitsigte van die baai en staan en kyk hoe kom
die jagte in en hoe hulle vasmaak. Dis heerlik rustig. Ons hou sommer baie van
Spartakhori.
 |
Makkers |
 |
Spartakhori Baai |
 |
Uitsig |
 |
Restaurant kaai |
 |
Geniet roomys van kompetisie |
Toe is dit tyd om op te tert en reg te maak vir die aandete by die restaurant. Dis 'n heerlike aand. Die tafeltjies en stoeltjies wag vir ons en ons sit aan. Ons bestel 'n kg rooiwyn. Archie eet hoenderpastei, Sullivan eet vis en ek eet garnale. Wel ek het heerlik geëet en heerlik gekuier.
Na ete drink Archie van die whisky wat Mary-Anne saamgestuur het. Yamas Mary-Anne!
 |
Sullivan, smeulend en sensueel |
 |
Archie en ek, opgetert |
 |
By die restaurant |