17 Mei 2016. Dinsdag.
Ek word by Shiree op Gumnuts
afgelaai en daar gaan Maja sonder my. Archie en Martin gaan seil.
Na sowat ’n uur is hulle terug.
Hulle wil later weer gaan as die wind sterker waai. En die keer word ek
opgekommandeer om saam te gaan. Ons wag en 13:20 is die wind lekker sterk en
daar gaan ons. Die seile is al op nog voordat ons uit die baai is. Ek is agter
die helm en Archie span en verstel die seile onder Martin se toesig.
Twee kapteins - Martin en Archie |
Kaptein Archie |
Eers die hoofseil en dan die genoa.
Dan word die seile gereef, kleiner gemaak. Gus waai lekker en ons spoed is meer
as sewe knope. Ons beweeg. Die seile word verstel en ons verander van rigting. Dit
is eintlik so eenvoudig. Ons seil ’n ruk net met die genoa. Dan is die hoofseil
weer op en ons seil met verkleide seile teen ’n heerlike spoed. Ons seil in die
baai en laat sak die seile. Ons het so baie geleer.
Nou is daai manne in hulle element
en wil net seil. Shiree word op die radio geroep en word aangesê om Gumnuts “ship
shape” te kry, want hulle wil weer gaan seil. Ons gooi anker en vas is Maja.
Ek probeer nog verskoning soek om
nie saam te gaan seil nie. Ek sê ek moet gaan kook vir die aand. Gumnuts se
mense kom by ons eet. Maar geen verskonings word aanvaar nie en daar trek ons.
Gumnuts seil uit die baai en Martin en Shiree werk saam soos geoliede wiele.
Hulle het allerhande elektriese wenasse (“winches”), maar hulle weet wat hulle
doen dit. Ek en Archie observeer net.
Ons seil ’n ruk en draai om terug
baai toe. Ek is mos nie eintlik iemand wat net gou ’n entjie vir die lekkerte gaan
seil nie. Dit was ’n uitstekende leerskool! Na ’n nattigheid oor die lippe vra
ek vir Shiree om my terug te neem na Maja. Ek moet kook vir die aand. Archie
kuier nog. Magtig, maar is ek moeg. Ek val op die bank neer en slaap gou vir
twintig minute voor ek begin kook.
Die gaste daag op en ons eet ons
laaste maaltyd saam.
Laaste maaltyd |
Ons gaan hulle eers in Augustus weer
sien en ons groet soos familie. Altyd te gou koebaai.