Vandag kom die kinders. Met vanaand se 21:00 bus vanaf Zagreb.
Dit was warm in die dag en ons los Maja se vensters oop. Sy blink van bo tot onder vir ons nuwe kuiergaste uit Suid-Afrika en alles is op hulle plek en skoon geskrop. Ek en Archie gaan eet ietsie by die Fife restaurant om die tyd van wag om te kry. Ons eet ons knuppeldik aan die heerlike kos in Split.
Na ete stap ons stadig na die ou stad, want die tyd kom nader. Toe, skielik, breek die enigste wolkie in die lug en dit sous. Archie hardloop terug na Maja om die vensters te gaan toemaak. Ek skuil onder 'n afdak, maar reën tog maar nat, want die wind waai die vlagies nat teen my vas.
Archie bly lank weg en ek raak later ongeduldig. Dis 20:50 en ons moet nog busstop toe loop om die kinders te ontmoet. Hy kom aangeloop met 'n vreeslike spoed. My oë vra dadelik waarom was hy so lank weg, maar voordat my mond die vraag kan formuleer, antwoord hy al.
Maja was druipnat. Die vloere was nat, die beddens en banke was nat. Die "bilges" (ruim) was vol water. Archie moes eers die vloere droogmaak en vensters toemaak en red wat te redde is.
Gelukkig reën dit minder en ons loop toe in 'n rekord tyd verder busstop toe. Net betyds om die bus te sien arriveer.
Anika, Gerrit en Michelle |
Die kinders is hier! Michelle, Gerrit en vriendin Anika. Na die gul gegroet, kry ons die bagasie en stap terug na waar Maja langs die kaai lê en wag.
Die kind wat Maja eerste sien, kry 'n prys. Hulle kyk grootoog om Maja eerste te sien. En die wenner is... Gerrit!!!
Maja wag geduldig-wiegend vir die kinders om op te klim. Hulle is moeg na die 36 uur reis om hier te kom en voel maar wankelrig op Maja. Hulle is so honger soos wolwe en verslind die pasta (ek het vergeet kinders kan so baie eet). Hulle slaap op die droë dele van die beddens.
Na die heerlike nagrus en kapteinskoffie, is hulle reg vir die dag. Die wind waai en ons vertrek baie versigtig vanaf die kaai na Split Marina.
Al die kinders kry of 'n tou of 'n afstoot pos om te beman. Dis altyd moeiliker om in wind vas te meer. Dis Gerrit en Anika se eerste vasmeer ervaring maar gelukkig is Michelle 'n ou hand, want sy het verlede jaar saam met ons geseil. Sy weet wat om te doen. Die vasmeerman wink om ons plek aan te dui. Archie ry mooi agteruit, Michelle maak voor vas, Anika en Gerrit gooi toue en stoot boot weg.
Met opdragte van die vasmeerman, die helpende hande en voete van die dekspan, moor ons suksesvol vas. Anika sê sy is natgesweet en vir die eerste keer verstaan hulle wat ek bedoel dat ons altyd natgesweet is na 'n vasmeersituasie.
Die meisies verwelkom die warm stort wat op hulle wag en selfs Gerrit wil ook skoon kom. Hulle lyk soos nuwe sikspense - skoon geskrop en vars. Opgewonde loop ons dorp toe.
Skoon geskrop en vars |
Gerrit, Ek en Michelle |
Hulle geniet die stalletjies en die ou stad.
Ou kloktoring |
Diocletius |
Die wind waai vanaand verskriklik en die maste en die toue word 'n stryk-orkes met Gus as die orkestreerder. Die maste wieg en dans, die vlae hou wapperkompetisie, die geluide legio.
Ek sug en die kaptein troos my deur te sê: "Toemaar, ons is vas en veilig in die Marina".
Toe maak ek my oë toe en slaap.
Published with Blogger-droid v2.0.10