18 Julie. Donderdag.
(Ek skryf nou maar die datum, want ek weet nie meer aldag of dit Dinsdag of Dingaansdag is nie!)
Gus het in die nag gaan lê en vir ons 'n rimpellose baai gelos. Ek drink my tradisionele kapteinskoffie in die bed. Archie nooi my vir 'n oggendswem.
Baaikostuum aan en ek is gereed vir die rimpellose bad vol water. Dit voel nie eers koud nie, net verfrissend lekker op my lyf. Waar's die meisiekinders en Elize nou!?
'n Nuuskierige skool visse swem nader. Die water is so stil en helder, ek kan hulle in die oë kyk. Ek swem heerlik tussen die skool visse. Ek is in my element en wil hulle net begin tafels leer. Ek voel tuis tussen hulle. Ek voel amper lus en gaan terug skool toe! Ek dink terug aan boeke merk en die lus gaan gou weg.
Die dorpies noord van Zadar het nie historiese waarde soos die suide nie. Dis sommer alledaagse gewone mens plekkies, waar ons bootmense stop vir 'n brood of eiers of 'n slaapplek op 'n boei. Niks opwindend nie, net die lewe leef.
Die dae word aande en dan weer dae. Ons gaan vandag by die dorpie Ist op die eiland met dieselfde naam stop vir brood, jogurt, hoender en vrugte. Ons haak 'n boei, ek agter die helm en Archie is Kaptein Haak. Ons klim in Dinkie en roei kant toe. Dis 'n lewendige dorpie met baie seiljagte in die baai.
Ons koop ons proviand, maak lyf nat, en weg is ons na Luka St Ante (44º 21.361N, 14º42.320 O) waar ons gaan oornag. Dis net 'n skrale 9 myl.
Dorpie Ist |
Ons koop ons proviand, maak lyf nat, en weg is ons na Luka St Ante (44º 21.361N, 14º42.320 O) waar ons gaan oornag. Dis net 'n skrale 9 myl.
Oppad na Silba |
Ons nader Luka St Ante op die eiland Silba. Die eiland se naam is afgelei van die Latyns woord "Silva", wat woud beteken. Oral op die eiland is bosse en bome. Die seiljagte lê lui-lekker in die windstil baai. Ons kry 'n boei na ons smaak en maak vas.
Die woud van Silba |
Dis nóg is heerlike skoon swem baai. Archie sê die aftrede akkodeer rêrig met hom.
Die meisiekinders se kamer ruik nog steeds na hulle.
Published with Blogger-droid v2.0.10