13 September 2015. Sondag.
![]() |
Galaxidi tot Anemokampis Baai |
Vir drie dae en drie nagte het ons in
Galaxidi gebly. Vir seilende sigeuners is dit baie lank. Ons het ’n nuwe
vriendskap gesluit. Ons hou van Galaxidi. Maar nou is dit tyd om vêrder aan te
stoot na Anemokampis Baai, 38°20.941 N, 22°22.840 O, 3.6 myl, net om die draai.
Ons anker word foutloos opgetrek, sonder
om iemand anders s’n saam op te trek. Gekruisde anker is ’n alledaagse
verskynsel as jy vasmeer by ’n kaai in Griekeland. Die buurman staan hoeka voor
op sy seiljag om die sake fyn dop te hou. Almal slaak altyd ’n sug van
verligting as ’n anker skoon uitkom, sonder ’n stuk ketting van iemand anders
se anker.
Ons vaar by die baai in wat deur die
land omsingel word. Dis baie beskut hier en Archie soek ankerplek en ek gooi.
Anker byt en vas is ons. Wat vreeslik lekker van anker is, is dat jy sommer
maklik in die water kan spring as jy warm kry. By ’n dorpskaai kan jy nie swem
nie. Jy moet na ’n spesiale strand toe gaan. Ons maak toe ook so. Ons spring,
nee Archie spring en ek klim in die water en koel daai warm lywe af.
Anemokampis Baai |
Ons gaan land toe en stap om die baai.
Daar is nog ’n jag op anker en ’n paar vissersbootjies in die baai. Dis heerlik
stil hier en ons geniet die rustigheid na drie dae by die kaai.
Herfs wolke |
Stil baai |
Anemokampis Baai |
Dis donkermaan. Ek kyk na die nag en soek vir by bakens om te sien waar ons is, maar dis net donkerte met ’n paar sterre wat ligjare vêr van ons is en moedig vir ons probeer lig gee.