26 Mei 2015, Dinsdag
![]() |
Keçi Bükü tot Slimiye |
Voorspellings van wind. Waarheen nou vir skuilplek? Dit lyk of Gus ingeskryf het vir ’n blaaskompetisie teen sy vriend, die Oostewind. Oostewinde waai nie eintlik in hierdie geweste nie. So, ons planne verander. Ons moet soek vir ’n plek wat skuiling teen die Oostewind gee. Die kaarte word bekyk, die boek word gelees, die weervoorspelling van Poseidon word weer bekyk. Die winde kom vannag, so ons wil veilig wees in die nag. Die wyse kaptein besluit op Selimiye, 36°42.491 N, 28°05.586 O, 7 myl. Dit is soos ’n hawe of dorpskaai, jy maak vas met vasmeertoue aan ’n jettie. Ons anker word dus nie gebruik nie. Ek is tevrede.
Ons verlaat die beskutte Keçi Bükü en vaar na die oop see. Ons besef eers
hoeveel skuilplek bied ’n baai as jy op die see kom. Gus oefen seker al, want
hy waai te lekker. Toe die wind se rigting reg is, seil ons ook, met net die genoa.
Ons wil nie te vroeg by Selimiye kom nie, want dan is die mense wat van plan is
om die plek te verlaat, nog nie weg nie. Ons seil rustig en kom 11:20 by die
dorpskaai aan en die hawemeester beduie daar is plek. Archie tru, ek gryp die
snoettou, Gus druk vir Maja skeef, die hawemeester stoot vir Maja weg van die
kaai, Archie gooi toue, ek sukkel met die swaar snoettou, die hawemeester
spring rats op Maja, sê hy sal my help, hy trek, sy voete gly, hy val op sy
alie (piesangstyl), maak die tou vas, Archie is agter besig met die toue en vas
is ons!
Ek trek my rok aan,
want ons is mos nou in die dorp! Ons gaan stap en oral is nuwe winkels in
wording. Daar is iets omtrent die plek waarvan ek hou. Kan net nie my vinger
daarop lê nie. Selimiye is ook bekend vir die bou van tradisionele houtbote (gulets). Dis daai bote wat hulle gebruik om toeriste op toere te neem. Die
reuk van hout prikkel my neus en die bootbouers is glimlag-vriendelik. Archie
bestudeer natuurlik die skelette van die bote in wording baie noukeurig. Ek
verkyk my aan die bote se boepense wat van hout gemaak is. Dis vir my blonde
brein moeilik om te glo dat houtplanke so rond kan wees.
Gulet in wording |
Boepens-boot |
Ons stap langs die
see en sien die oorblyfsels van die verlede. Hier is ook is middeleeuse fort op
die koppie. As die weer dit toelaat, sal ons môre gaan kyk, want hulle voorspel
reën.
Langs die see |
Fort oppikoppie |
Ek sit op die dek en kyk hoe die seiljagte een na die ander senuagtig
(ja, Deon, senuagtig) in die baai invaar en plek soek, by restaurant kaaie en
die dorpskaai. Later is die plek op en die arme drommels moet anker.
Dit word vroeg
donker, want die wolke het die son verjaag, so ons eet ons “overshoot” (soos
Michelle oorskietkos noem) vroeg en gaan stap daarna in die dorp. Soos ons
verwag het, reën ons nat. Ons stap baie vinniger terug, knieë en al.
Op die bote is al die
lokale manne besig om ekstra toue uit te haal en vas te maak. Weet hulle iets
wat ons nie weet nie? Gelukkig het ons al klaar dubbel toue. Nou wag ons maar
op die winde van vannag. As die weer nie verbeter nie gaan ons vir twee aande hier bly.
Die blaaskompetisie
begin toe 01:30 ... Dit word ingelui deur
die seiljagte se blaasorkes ...