14 September 2015. Maandag.
![]() |
Anemokampis tot Panormou Baai |
Dis ons laaste week. Ons bekruip vir Patra stadig, maar seker.
Al die baaie in die geweste is beskut
teen die heersende winde, wat die noorde- en westewinde is. Dis oop vir die
suidewind en die oostewind veroorsaak swellings in die baaie. Raai nou net hoe
waai Gus nou!? Hy is so aspris, hy waai uit die ooste en suid-ooste. Wip is my
voorland.
Ons vertrek uit Anemokampis na Panormou,
38°21.530 N, 22°14.659 O, 11.6 myl. Gus waai net liggies, maar hy het seker op
’n ander plek erger gewaai, want die see is al klaar effense effens opgeklits.
Nie baie nie, net genoeg om vir Maja rond te skommel as sy sou stilstaan. Ons
vaar by Ormos Vidavis in om te kyk hoe lyk die ankerplek. Dis oop na die suide
en die oostewind stuur swellings in. Ek kan sommer sien dis hop se dinge die en
ons vaar maar verder.
Ormos Vidavis |
Gus is ’n lekker ligte briesie en die kaptein wil seile span. Ons het nie vêr om te gaan nie, so ons is nie haastig nie. Ons seil sommer so stadig en rustig verder. Die kaptein kyk na sy seile en probeer maksimum spoed uit mimimum wind kry. Waar is ou Chris nou. Hy wil mos altyd bloed uit ’n klip tap as dit by seilspoed kom.
Kaptein se seile |
Ons vaar by Panormou in. Ons ken die
baai, want ons was verlede jaar hier. Dis so ’n groot, vriendelike baai met ’n groot
klippiesstrand. Archie kry die geskikte plek en ons gooi anker en Maja skop viervoet
vas, so byt haar anker.
Panormou Baai |
Die deinings kom klein, maar duidelik ingestroom en breek liggies op die strand. Dis glad nie gevaarlik nie, Maja is goed geanker en Gus waai nie. Dis net blerrie ongemaklik as Maja so hop en skommel. Soms gee jy ’n tree, dan hop sy anderkant toe. Dan is jou tree so half in die lig en jy struikel so ’n dronkie. Dis verbasend dat sulke klein deinings sulke groot bootskommelinge kan veroorsaak.
Ons kajuit is in Maja se snoet en daar
voel jy die bewegings die ergste. Ou Arch slaap soos ’n baba en ek kan nie
slaap nie. Dan skwiek iets hier en dan chirr iets daar. Dan klik iets hier en
dan klak iets daar. En Sherlock snuffel al die geluide uit en maak dit stil. Se
moer, ek gaan op die dek slaap. Dis lekker koel daar, hop die minste maar in
die nag klink daai klein golfies wat op die strand breek, so erg, ek dink ek is
by Wildernis in die Kaap!
Praat van koel, ek dink die seisoen is
besig om te draai. Ek kry later koud op die dek en gaan kruip by die kaptein
in.