10 en 11 September 2017. Sondag en Maandag.
Dis baie bewolk toe ons die bus klim en na ons
nuwe avontuur in Macedonië vertrek. Ons gaan vir drie dae tuisgaan in Skopje,
die hoofstad van die klein land, Macedonië. Dit was voor hul onafhanklikheid
bekend as Yugoslavië. En dit was ’n kommunistiese land. Jare terug, toe ek
klein was, was dit deel van “die rooi gevaar”.
Ons kom by Skopje aan en gelukkig is ons
oujongkêrels-woonstel naby die busterminaal. Dit lyk werklik na ’n gebou uit die
kommunisties era. Ek merk op dat die omgewing nou nie eintlik ’n ligte,
sorgvrye vakansiestemming het nie. Ons lag en vind ons blyplek, nadat ’n ouer
inwoner van die gebou langsaan, ons die pad in vreemde tale aanwys.
 |
Die gebou. Ons kamer is in die kelder agter |
’n Ou tannie laat ons in, ook in vreemde tale en
sluit ons eenheid (wat so semi in die kelder is), oop. Gelukkig het hulle ons verwag.
Die plek is heel gerieflik, met eie piepklein kombuisie. Dis effe donker, want
die vensters is maar min. Maar ons is heel tevrede.
Die aand eet ons gebraaide hoender wat Archie by
die supermark koop. Heerlik.
Eerste op ons lys van besienswaardighede, is die
Matka dam. Dis eintlik ’n dam tussen die hoë berge in 'n kloof. Ons klim bus 60 en ry
daarheen. Daar is net een probleem – hulle werk aan die pad en die bus laai ons af
en sê ons moet vêrder na die Matka dam loop. Ons stap toe maar die pad soontoe
en dis vêr en lank en hard. Oral langs die pad lê vullis en rommel, amper erger
as in Suid-Afrika. Na ’n uur se warm stap, kom ons uiteindelik by die damwal.
 |
Lang instap |
Ons besluit ons stap na een van die baie kloosters en 'n boot neem ons na die oorkant van die dam waar die paadjie begin. Ons stap die steil pad op na die
klooster (wat gesluit was). Toe weer die steil pad af en dan slaan jy die
ghong en die bootjie kom haal jou.
 |
Ekskursie bootjies |
 |
Steil paadjie |
 |
Klein klooster |
Ons stap toe op 'n ander paadjie al langs die kloof op. Die water glinster blou-groen doer onder.Dis baie mooi en
ons stap heerlik, net ’n jammerte dat dit so rommelbestrooi is.
 |
Restaurant by die water |
 |
Hotel en restaurant |
 |
Die dam |
 |
Op die paadjie |
En nog is dit die einde niet. Stap is ons voorland en ek sien op na die lang pad terug na die bushalte.
Dit voel langer, harder en warmer as met die kom. Ons het altesaam so 12 km vir die dag gestap en dit was baie vermoeiend. Ek is sommer moeg.
Ons het vars forel by die supermark gekoop en ek
maak dit gaar. Goedkoop en heerlik.