Wednesday, June 1, 2016

Chalkis.



31 Mei 2016. Dinsdag.
 
Eretria tot Chalkis

Hierdie Evia Eiland waar ons nou vaar, is vreeslik groot. Ons is al met hom besig van Vasilikos Baai tot nou en vandag is dit Chalkis, 38°27.633 N, 23°35.372 O, 13.5 myl.

Naby die dorp is ’n baie groot sementfabriek en dan moet jy onder ’n hoë padbrug deurvaar. Hierdie is vlak water en ’n kaptein moet kophou om in die diep deel (7 m) te vaar. Die bevaarbare deel word onder die brug met ’n groen baken, (regs) en ’n rooi baken (links) aangedui. As jy nie die regte roete volg nie, is strand jou voorland.

Sementfabriek met brug agter
Brug, hier kom ons!

Soos gewoonlik lyk dit of Maja se mas te hoog vir die brug is, maar ek weet nou al, moenie komkommer nie (dis altyd vir my so kommin as iemand so sê), die brug is hoog genoeg. Ons is onderdeur en anderkant verby en daar lê Chalkis.

Chalkis met brug op linkerkant

By Chalkis is ’n baie nou brug wat Evia Eiland en die Griekse hoofland met mekaar verbind. Dis 39.9 m breed en die brug kan oopswaai vir hie vaartuie om deur te gaan. Die kaptein moet dadelik na die hawe polisie gaan om die brugfooie (€35)te betaal en te vra hoe laat die brug oopgaan.

Daar is seestrome van 3 tot 4 knope loop deur die nou gaping en die water kan ook vreeslik kolk. Dan is dit ook met die maan gepla, want met springgety is dit erger. As Gus erg waai, maak hulle soms nie eers die brug oop nie. En die ergste is dat hulle net die brug in die nag oopmaak. Kwansuis om die verkeer nie te ontwrig nie. Persoonlik dink ek dit is om die lewe van die bootmense moeiliker te maak en die toeskouers se lewe bietjie op te kikker.

Ons kry ’n plek langs die kaai en maak vas. Gus lê. Archie doen die nodige papierwerk. Ons moet ons radio van 21:30 op Kanaal 12 aansit, want hulle sal laat weet. Dit sal waarskynlik na middernag wees. Hemel, maar is ek benoud. Om in die middel van die nag deur te vaar en weer vas te maak, is “spectator sport”.

Langs die kaai

Ons verken die dorp. Daar heers ’n vakansie gevoel in die plek. Dis lewendig en oral langs die kaai is restaurante. Ons gaan bekyk die kaai aan die ander kant van die brug waar ons na die deurgaan wil slaap. Plek is maar skraps. Omtrent plek vir twee jagte. Daar staan reeds ’n paar jagte vasgemaak wat die meeste plek vat. 

Die berugte brug
Waterfront anderkant die brug
Ottoman moskee

Ek is nou glad nie meer mistroostig nie. Ek is doodeenvoudig benoud. Om in die dag te “alongside” is erg genoeg, maar in die nag! As daar nie plek by die kaai gaan wees nie, is die ankerplek 2.4 myl verder. Ag my swak hart!

Ek maak die laaste van die slegte calamari gaar en eet dit sommer met koue rys. Ek met nou net brug op my brein. Teen 21:30 word die radio aangesit, maar daar is ’n swanger stilte op Kanaal 12. ’n Kaptein van ’n ander jag kan dit teen 22:17 nie meer hou nie en roep die hawe polisie. Hulle sê ewe ongeduldig vir hom hy moet maar net wag. Hulle sal ons roep. Die dowwe aand word donker nag. Gelukkig brand die dorp se ligte en ons kan sien.

Wanneer gaan hulle ons roep. Dis al amper middernag! Daar is drie bote wat wil deurgaan …