7
Mei 2017. Sondag.
![]() |
Pölemos tot Kaş |
Hierdie Pölemos herdoop ek na Windbaai. Gus het homself behoorlik hier geniet. Die hele nag het die swerkater ons hot en haar gewaai. Het eers diep in die nag gaan inkruip. Vanoggend is dit weer heerlik in die baai. Stilbaai.
Ons
vertrek vroeg na Kaş, 19.7 myl, net toe die son sy verskyning maak. Ons wil
vroeg daar aankom. Till en Andree moet uitvind wanneer die bus na Daleman
vertrek en buskaartjies koop. Ons meisies moet ook wasgoed was. Ai, wasgoed was,
dit is vir my lekker! Dis vir my ’n vreugde om my skoon gewasde klere op Maja
se drade te sien wapper. Dan gee ek nie omdat Gus liggies met dit rondspeel
nie. Hy moet net nie probeer om dit van die lyn af te waai nie. Maar toemaar,
ek is altyd voorbereid. My leuse is – maak altyd reg vir wind. Elke kledingstuk
word dan met ’n magdom pennetjies aan die draad vasgepen en ou Archie skud maar
net sy kop en sê; “Ou vrou … ”
Stilbaai |
Oggendskoot |
Ons
eet sommer ons tradisionele eenvoudige ontbyt so terwyl ons vaar. Die see skud
ons maar rond en laat my aan daai liedjie dink- “skommel daai ding, skommel
daai ding, skaam om te vra, skommel daai ding, skommel daai ding, tot sy sê ja.”
Dan wonder ek altyd van watse ding sing hulle nou eintlik.
En
so kom Till en Andree se laaste vaart tot ’n einde toe ons by Kaş se marina
aankom en eers diesel ingooi en swartwater uitpomp. Andree beskou dit as
suksesvol vasgemeer en drink dadelik haar koue drankie. Sy verlei Till ook soos
Eva van ouds en gee vir hom ook ’n glas Coke. Hy neem en drink en so verbreek
die twee dorstige Kapenaars ’n Maja-tradisie om te drink voordat ons finaal
vasgemeer het!
Kaptein |
Laaste vaart |
Die marinaman vra vir ’n ekstra tou en anders as verlede jaar, wonder ek nie waarom hulle ’n tou vra nie, ek weet nou hulle gebruik jou eie tou om Maja aan hulle sementblok vas te maak. Hy wys ons die plek en gee die vasgemaakte snoettou vir my aan en ons is vas en veilig in die marina. Till en Andree se laaste hawe.
Andree
skink vir my en Archie ons “cold beverages” en ons kan ontspan. Ook nie vir lank nie, toe loop was ons
meisies ons wasgoed. Andree gaan stort en was hare en lyk toe te pragtig. Till verlang na ’n skoon oop gesig en gaan
stort en skeer. Toe lyk hy net so pragtig. En toe gaan ons dorp toe. Ons gaan
mos altyd dorp toe.
Kas
se marina is nuut en baie goed versorg. Andree kan nie uitgepraat raak oor hoe beïndruk
sy is met die netjiese marina nie. In die tuin pronk veelkleurige blomme. Die
gras is groen en gesny.
Blomryke marina |
Die
dorp is ook mooi. Pragtige restaurante langs die waterfront. Winkels waarin jy
kan snuffel. Ons eet ’n ligte middagete in ’n eetplek en daarna neem Till en
Andree die dorp op horings, terwyl ek en Archie ’n ander koers inslaan. Ek
verlei Archie tot ’n roomys en ons sit dit sommer op die sypaadjie en eet.
Reuse sarkofaag |
Slenter-slenter
gaan ons terug na Maja en ’n ruk daarna kom die Kapenaars ook daar aan. Gus
waai en almal sit in die saloon. Sommige lees, ander gesels, party pak . Ons
tem of ons buite of binne moet eet en die uitslag is – drie stemme vir binne en
een stem (ek) vir buite. Ons dek vir oulaas die tafel en eet ons laaste maaltyd
saam. Ons geniet darem "sundowners" op die dek.
"Sundowner" |
Die
manne sing weer so bietjie en later gaan kruip ons almal in.