20 September 2016. Dinsdag.
Ek word wakker deur druppels wat
teen die luik val. Soos blits spring ek op, want daar is wasgoed op die draad.
Dit reën liggies. Dit was die afgelope tyd so vrekwarm, gedog iets gaan
uitbroei. Dis nou net jammer die bimini is nou nat en dit moet nog afgehaal
word.
Die reën hou nie lank aan nie. Toe
dit ooptrek, is daai berge eers mooi. Een vir een word die pieke deur die son
verlig. (Die berge roep my, ek sal volgende jaar moet gaan hoor wat hulle vir
my wil sê.) Die marina skitter in die son en alles lyk vars.
Vars na die reën |
Gulets staan gereed |
Die bimini word gelukkig drooggebak
en ons haal dit gou af voordat die volgende buitjie val. Archie haal ook die
helm af. Ek hang die wasgoed weer op en toe dreig die reën om weer te val.
Wasgoed op, wasgoed af. Dis een van daai dae. Nou hoop ons net die reën hou op
voor vanaand. Ons is nie lus om in die reën na die bushalte toe te loop nie!
Ons gaan vanaand die bus klim na Göreme.
Reën in die lug |
Archie doen nog vir oulaas goedjies
en maak seker daar is nie toue wat in die wind gaan klapper nie. Maja is nou
behoorlik kaalgestroop! Sy lyk vir my skoon olik.
Maak toue stil |
Kaal gestroop |
Ons pak ons rugsakke en ons is reg
vir die lang pad. Die luike word deeglik toegemaak, alles word dubbeld gekontroleer,
ons sluit die deur en groet vir Maja.
En daar trek ons. Nog is seisoen is
verby. Ek kyk om en met ’n laaste “tata Maja” en ’n traan in die oog, stap ons
weg van ons geliefde Maja wat so eensaam en verwese op haar stelte lyk.
Tata Maja |
Archie verrek ’n spier, of iets …