22 September 2017. Vrydag
Ons het toe nie in die Pelister Natuurresevaat gaan
stap nie, want donderstorms is voorspel. Toe klim ons die Vrydag bus na Prilep
en daarvandaan die minibus, met die vriendelike bestuurder na Kruševo, die hoogste
dorp in die Balkanlande.
Dis die platteland van Macedonië hierdie. Ons ry
verby tabaklande, waar die mense die blare pluk. Sukke klein blare wat dan oral
gedroog word. Dit word dan aan die tabakfabrieke verkoop. Malboro sigarette
word blykbaar van dié tabak
gemaak. Dis kwansuis geuriger. Daar is ook lande vol pepers. Oral pluk
en oes die boere die vrug van hul arbeid.
 |
Vrug van hul arbeid |
Ons kom by Kruševo en dis koud. Alexander, ons
gasheer wag ons by die busstasie in en vergesel ons na ons baie mooi woonstel.
Dis luuks verby en dit sal selfs my vriendin Esther, se goedkeuring wegdra.
Kombuis, eetkamer, twee slaapkamers, sitkamer en badkamer. Alles smaakvol,
kleurvol en verwelkomend. Ons voel dadelik tuis.
Hierdie dorp is 1250m bo seevlak en dis koud hier.
Ons wil dorp toe, maar toe ons ons neuse by die deur uitsteek, draai in ons
spore om en gaan trek nog warm klere aan. Archie sê ewe droog dit lyk of hy reg
is vir “an artic expedition” .Die wind sny soos ’n mes deur mens.
 |
Op pad na Noordpool |
Ons stap na die Macedonion toe. Dit is ’n vreeslike
eienaardige monument wat opgerig is vir die manne wat in 1903 in opstand gekom
het teen die Turke. Hulle het Kruševo en omgewing as ’n onafhanklike staat
verklaar, wat ’n baie groot prestasie was. Hulle was net ’n handjie vol wat
teen die sterk Turkse mag geveg het. Hulle kon dit vir 10 dae volhou, maar toe
het die Turkse mag hulle almal uitgewis.
 |
Macedonion |
Die graf van Nikola Karev, die leier van die Kruševo
Republiek, is in die Macedonion en daar is mooi loodglasvensters. Buite is daar
wit sement stoele waar hulle van tyd tot tyd optredes hou. Ons ontmoet ’n Macedoniese
meisie en haar Mexikaanse vriendin wat uitgelate vir ons poseer.
 |
Loodglasvensters en graf |
 |
Teater |
 |
Lawwe goed |
 |
Ek en Archie |
 |
Uitsig |
Dis son loer soms vir ons tussen die wolke deur.
Dan is dit warmer die klere waai, totdat die wind ons weer dwing om aan te
trek. Ons stap heerlik en verkyk ons aan die huisies wat so teen die berg
optuimel.
 |
Kerk |
 |
Kruševo |
 |
Uitsig oor die vallei |
 |
Ou karretjie |
 |
Tradisionele huis |
Hierdie is ’n vriendelike dorp met gelukkige mense.
Alexander kom steek gou na werk vir ons die kaggel aan en drink ’n koppie
koffie saam met ons. Ons gaan eet die aand gebakte bone in die restaurant. Dis ’n
tradisionele Masedoniese gereg. En dit is heerlik.
Môre gaan ons terug Skopje toe om buskaartjies vir
Bulgarye te koop en dan groet ons vir Masedonië.