Thursday, August 22, 2019

Turkye. Pergamon.

21 Augustus 2019. Woensdag.

Vandag gaan ons met 'n dolmus na Bergama, die dorp aan die voet van die heuwel waar Pergamon is. Van daar  af gaan ons dan met 'n taxi na Pergamon, wat op die top van 'n heuwel (335 m), in die middel van vlakte gebou is.

Ons staan vroeg op en staan al 6:00 en wag vir 'n dolmus wat ons na die yeni otogar (nuwe busstasie) toe moet neem. Die eerste bus na Bergama vertrek 7:00 en dis so 'n halfuur se ry met die dolmus. Ons wag en wag en wraggies, 6:30 daag dolmus nr. 50 op en ons klim. Miskien sal ons betyds wees vir die 7:00 bus. En ons is sowaar betyds en klim die bus na Bergama, wat 7:05 vertrek.

By Bergama storm 'n taxibestuurder op ons af om ons na die bopunt van die antieke dorp te neem en ons klim. Die taxi laai ons bo af, ons betaal ingangfooi en ons begin die antieke dorp te verken.

Die Akropolis is bo-op die heuwel gebou. Die mure van die ou stad staan nog plek- plek. Jy kry 'n mooi uitsig oor die dam wat daar onder lê. Die  Die teater van Pergamon is een van die steilste in die wêreld. 10 000 mense kan daar sit gemaak word en is 3de eeu v.C gebou. Die toegang na die teater is deur 'n nou donker tonnel. Archie loop voor en ek is agterna.
 
Uitsig oor dam
Teater
Ingang tot teater
Steilste teater
 
Die altaar van Zeus is aan die suidekant van die teater. Die altaar is in 1871 deur Carl Humann weggeneem van Pergamon en word uitgestal in die Pergamon Museun in Berlyn. Die Turkse regering is tans besig om dit te probeer terugkry.
 
Altaar van Zeus
 
Die Tempel van Trajan is besonder mooi. Trajan het dit begin bou, maar na sy dood het Hadrian dit in 117 tot 138 voltooi. Die hele tempel was met marmer gebou. Hulle is besig om die tempel te herbou. Vir my is dit die mooiste deel van die antieke stad.

Marmerkolomme
Archie
Tempel van Trajan
Tempel van Trajan
 
Ons loop op die antieke pad terug en sien nog baie dele van die ou stad. Ons kry ook 'n geheelbeeld van die teater, die oorblyfsels van die Tempel van Athene, wat tydens die tydperk van Eumenes 11 in die 3de eeu v.C.gebou is en die tempel van Trajan. Oral is nog ou goed en oorblyfsels van geboue te sien. Dit moes 'n baie groot stad gewees het.
 
Pergamon
 
Die antieke pad neem ons ook verby die boonste- en onderste Gimnasiums.  Dis 'n reuse plek, waar die mense van daardie tyd baie aktiviteite gedoen het. Pilare en ander beboue is nog te sien. Oral is hulle besig met restoursiewerk.
 
Gimnasium
Boë
Ingang tot Gimnasium
 
Af af af loop ons en sien ook die Rooi Basilika daar onder. Ons stap verby kleurvolle ou huise in die ou deel van Bergama. Dis helderheid wat selfs die vaalste dag kan omtower tot baldadige plesierigheid. Ons geniet dit tredeë om hier te stap. Toe is ons onder en baie dors. Dis warm hier!

Vensters
Bergama se ou dorp
Kleurvol
Vensters
Met trekker dorp toe
Mengelmoeskardoes
Te koop
Bergama is bekend vir sy matte
 
Ons gaan besoek die Rooi Basilika. Die groot struktuur is in die 2de eeu onder die heerskappy van Hadrian vir die Griekse god, Serapis, gebou. Later is dit omgeskakel in 'n Bizantynse kerk. Dit bestaan uit die hoofgebou en twee torings. In die eerste eeu n.C. is 'n kerk binne-in die basilika gebou. Wat hiérdie ou kerk so besonders maak, is die feit dat een van die gemeentes wat in die Bybelboek, Openbaring, genoem word, se kerk in dié Basilika gebou was. In Openbaring 2 vers 12-17 staan geskrywe: "Skrywe aan die leraar van die gemeente van Pergamum: So sê Hy wat die skerp swaard met twee snykante het: …"
 
Rooi Basilika
Binnekant van Basilika
Geheelbeeld
Vensters
 
Daar is ook 'n standbeeld van 'n Egiptiese godin, Sekhmet, en 'n werkende moskee waar moslems nog aanbid.

Sekhmet
 
Ons loop rond in die ruïnes van die basilika. Ek is in vervoering oor die geskiedenis wat dié plek het. Na ons heerlike uitstappie klim ons weer al ons busse en kom uitgeput by Maja aan.

Turkye. Ayvalik dorp.

20 Augustus 2019. Dinsdag.

Die seiljagorkes is dag en nag aan die speel hier in Ayvalik. Maar ons is heerlik veilig in die marina. Hy kan maar waai as hy wil. 

Ons gaan dorp toe. Ayvalik is geleë op die rand van 'n "meer" en is 'n werkende dorp, wat al hoe meer toeriste lok. Dis 'n mengsel van 19de en vroeë 20ste eeuse argitektuur en is genestel in die groen van olyf- en dennebome. Die dorp was toentertyd onder Hellenistiese en Romeinse beheer, maar daar is min oorblyfsels van dié tydperke.
 
Die dorp het in die vroeë 17de eeu ontstaan en was veral in die 19de eeu baie vooruitstrewend. Baie olyfolies, seep, wyn en sout is geproduseer.

In 1923 is die Griekse bevolking wat in Ayvalik gebly het, verruil vir Turke wat in Kreta, Lesvos en Macedonië gebly het. As jy deur die strate loop, kan jy nog die Grieksheid aanvoel.
 
Straattoneel

"Kom dans Klaradyn"

Straatveër

Ou huis uit Griekse era

Die deur
 

Turtye. Ayvalik.

19 Augustus 2019. Maandag.

Roete tot datum

Mytilini tot Ayvalik Marina
Gaan dit 'n ligblou Maandag wees? Of  'n donkerblou een? Of sommer maar net 'n Maandag? Ons verlaat Griekeland vandag, Turkye toe. 

Die dag lê soos 'n berg voor my. Ons moet uit Griekeland klok, wind-op vaar na Ayvalik, 19 myl. Dan moet eers 'n transit log by Ayvalik Marina gaan koop, in Turkye gaan inklok en daarna gaan ons weer na die marina om vas te meer..

Die wind waai die hele nag en ek kan deur my slaapnewels al sien hoe word die deinings groter. Ons vertrek 6:30 uit die Mytilini Marina en vaar na die kaai by die hawepolisie waar ons moet uitklok. Mytilini se hawepolisie is bekend daarvoor dat hulle die lewe vir seilers moeilik maak. Ons hoop maar vir die beste. Hier moet ons alongside vasmaak. Ek staan gereed met die tou om af te klim. Archie pyl op die kaai af, swenk links en ek is naby genoeg aan die kaai om af te klim en vas te maak. Onthou, ek kan nie spring nie, my knieë! Ek maak vas.

Ons stap na die paspoort kontrole, maar hulle maak eers 7:30 oop. Ons wag toe maar 30 minute. Hulle stempel ons paspoorte en Archie gaan alleen na die doeane en hawemeester toe. Ek wag vir hom op Maja. Hy kom terug, ons maak los en vertrek. Ligblou Maandag. Alles het vlot verloop.

Toe tref ons daai see. Of liewers, toe tref daai see ons. Gus en sy hele legioen perde kom ons tegemoet. Hy loots 'n kavallerie-aanval op ons! Maja se spoed daal na 2 knope. Archie vermeerder die rewolusies en ons kan darem drie knope vaar. Wind reg van voor. Ons sukkel voort. Die seesproei maak ons papnat. Maja word uit die water geruk en dan weer neergegooi, net om die volgende golf te tref. Hierdie Med golwe volg mos vreeslik kort op mekaar. Die wind wissel van 17 tot 25 knope. Maar dis eintlik die see wat die groot probleem is. Sommige van die deinings stop ons in ons spore. Dis darem nie so erg soos daai dag met Elize en Martie nie. Ons bons vorentoe, darem vorentoe.

Vir 10 myl vaar ons so, voordat die land die die golwe kleiner maak. Ook later waai Gus tot 27 knope, maar die "fetch" is kleiner en die see is nie so groot nie. Ons vaar die hele pad teen die wind en kom genadiglik by Ayvalik aan. Donkerblou Maandag.
Vaar verby Alibey
Nou moet ons na die veerboothawe gaan om in te klok. Ons het nie 'n transit log nie en moet een by die marina koop. Archie kontak die marina per radio en die gawe Turke sê hulle sal vir ons een bring met hulle dinghie en ons kan dit by die ingang van die hawe kry. Dis wonderlike nuus en ons betaal die 442 tl en vaar veerboothawe toe. Die kaai is moerhoog, ek sal nie daar kan afklim nie. Selfs Archie gaan sukkel. Toe kom 'n jongman van 'n vasgemeerde veerboot en vang ons tou. Wat 'n genade en vas is ons.

Ons het gehoor hoe kroek die agente wat jou help om in Turkye te klok die seilers en ons is effe benoud. Archie vul sy transit log gou self in en ons stap polisie toe. Ons gebruik nie 'n agent nie, want slim Archie hét 'n transit log (danksy die marina). Die hele prosedure verloop glad en ons is wettig in Turkye. Wit Maandag.

Ons vaar na die marina, roep hulle oor die radio. Hulle help ons in en na 'n bietjie afstoot is ons veilig vas. Onthou Gus waai laat dit bars en om in 18 knope wind vas te meer, is moeilik. En al die blou van die Maandag val weg in die poel van dankbaarheid van veiligheid en verligting. Dit word maar net 'n gewone Maandag.

Ayvalik Marina
Ons vier ons aankoms in Turkye met 'n heerlike bord vars levraki en pan aartappels. En toe verlang ek skielik na Deon en Ryna wat in 2016 saam met ons hier in Ayvalik was. As Ryna nou hier was, sou ek vir haar 'n paar grappies vertel het!
Feesmaal