Friday, June 19, 2015

Leon en Dirk se hoogtepunte.



Leon

Leon


Leon is nog steeds vreeslik geheg aan die verkyker. Hy verkyk hom aan alles en nog wat. Nuuskierig is sy middelnaam. Sy voete het seker gegroei, want hy stap amper nog meer as verlede jaar. Hy moet alles beskou, bekyk en ontrafel. Hy en Dirk het ’n heerlike eiervrug gereg gemaak en hy het ’n goeie gevoel vir heerlike smake. Leon het die turkoois water vreeslik geniet en gereeld lyf natgemaak.

Hy net die rivierrit na Dalyan baie geniet. Die stap by Caunos, die dorpie, die krap, die hele ervaring.

Dalyan hangmat

Krap ete


Die eiland, Gemiler, met die antieke stad van St Nicholas, het hom behoorlik laat dink. Hoe het die stad gelyk? Wat het hulle alles gedoen? Dit was bespiegelinge en besprekings. 


Antieke stad van St Nicholas



Dirk

Dirk


Dirk is hulpvaardig, help waar hy kan, sonder dat jy eers vir hom hoef te vra. Hy het die kuns bemeester om Dinkie staande te ry as hy toue by die land gaan losmaak. Hy het ’n biltongsop gemaak wat uitstekend was en ook saam met Leon die eiervrug gereg gemaak. Hy het soos ’n kind in die water baljaar. Hy het ’n oog om dolfyne raak te sien. Hy het vir twee dae aanmekaar verjaar.

Die rivierrit na Dalyan was ook vir hom ’n hoogtepunt. Selfs die stink modderbad het nie sy geesdrif gedemp nie. 

Rivierrit
Modderbad


Die dorpie, Göcek, was ook vir hom ’n hoogtepunt. Hy het die vakansiedorp vreeslik geniet.

Göcek


Dankie manne, dat julle kom saam seil het!

Fethiye. Afskeid.



17 en 18 Junie 2015. Woensdag en Donderdag.

Karacaören tot Fethiye

Die manne neem hulle laaste seeswem met ’n tikkie hartseer. Hulle hou van swem, veral in sulke blou water. Môre gaan Leon en Dirk ons verlaat. Hulle vakansie op Maja is amper verby. Hierna word hulle binnelanders. Dirk kry die landtou en ons doen die res en daar gaan ons. Dirk waai so ewe vir die ankerplek.

Oggendskoot - Afskeid


Ons is op pad na Fethiye se marina,36°37.522 N 29°06.018 O, 14 myl. Ek sien uit na die marina. Ek het lanklaas soos ’n vroumens gestort en hare gewas en al die dinge gedoen wat vroumense doen om ons mooier te laat lyk en beter te laat voel. Ek sien uit daarna om sommer oor Maja se plank te loop en daar is die badkamer en die dorp. Ai, dit gaan lekker wees!

Ons vaar en gesels en kyk en sien en dink. Ons moet eers diesel ingooi en Archie hanteer die vasmeer baie goed. Hy stuur meesterlik in die spasie. Maja drink die diesel in en ons aaklige swartwater word uitgepomp en ek roep die marina op Kanaal 73 om ons ons staanplek te wys. 

Besige Fethiye


Die marina man op die bootjie weet te vertel dat die marina binne vol is en ons moet aan die buitekant gaan alongside vasmeer. En toe bars my borrel. Ek wou so graag ’n lekker laaste aand vir die manne gehad het. En by die dorp wees en naby die badkamers. Natuurlik gee ek my misnoeë te kenne. Met geen onomwonde taal. Ek spoel behoorlik my mond uit.

Wat kan jy doen! Ons gaan meer toe maar aan die buitekant vas, 730 m (amper ’n kilometer) van die badkamer. Ten minste kan ons lekker stort en klaarmaak vir die uiteet wat Leon en Dirk vir ons beplan.

Uitgevat!
Op pad restaurant


Hulle neem ons na die Megri restaurant. En wat ’n smaaksensasie! Dirk bestel vir ons twee mezes. Leon en Dirk eet gevulde calamari en ek een Archie lamskenkel met ’n roosmarynsous. Dit is omtrent die lekkerste wat ons nog in Turkye geëet het. Dankie, julle! Goeie keuse vir laaste avondmaal. 

Pofbrood
Gevulde calamari
Lamskenkel met roosmarynsous
Dankie julle