Tuesday, May 12, 2015

Çökertme Prag


12 Mei 2015

Dis die volgende dag. Ek word uit die bed geboender omdat die son skyn en Archie wil gaan stap daarvoor reën. Koffie word gedrink en toe is dit regmaak vir voet aan wal sit. Gewapen met stapstok klim ons in Dinkie en ou Arch trek daai enjin oop en ons jaag land toe.

Die stap is heerlik. By ons skyn die son, maar daar in die verte lyk dinge maar dik. Die staptog begin langs die see. Toe stap ons padlangs berg-op. Ons word beloer deur ’n koei wat ons diep in die oë kyk. Ek dink hy lyk anders as Dirk se koeie op die plaas daar in die Vrystaat. 

Çökertme Baai
Eendag word ek 'n Nguni



Maja lê doer in die baai, net langs haar moeder. Sy lyk sommer piepklein langs die Aegean Clipper. Ander jagte is aan die restaurant jetties vasgemaak. Dis maar ’n klein dorpie wat bestaan uit restaurante en plasies.


Maja en haar Aegean moeder
Dorpie


Die pad neem ons boontoe en ons word ryklik beloon met uitsigte oor die baai. Die see lyk inkblou in kontras met die groen van die denne en die grysgroen van die olyfbome. 

Uitsig oor Kepçe Punt
Çökertme Baai



Ons moet soos skelms oor ’n klipmuur om tot bo te kom. Hierdie berge laat ons dink aan die Switserse Alpe. Dis wraggies baie mooi hier. 


Skelm
Olyfbome en berge
Lıttle Swıtzerland


Ons blaas die aftog en kom by Dinkie en jaag terug. Ook net betyds. Oorkant lyk die lug dreigend donkerblou met bliksemstrale wat die lug ophelder. Dit rammel in die verte en ons en die Aegean Clipper kry alles reg en vas vir die storm wat nader kom. ’n Benoude seiljag kom by die baai ingevaar en maak vinnig aan die jetty vas.

Die wind waai die donkerblou lug vinnig nader en ek word benoud. Die rammel steeds in die verte. Dit begin skielik reën en hou net so skielik op. Die storm het by ons verbygewaai. Aan die Noordekant begin die son deur te breek en die donkerblou verlig tot net bewolk en later tot amperse sonlig.

Hoe vinnig verander die weer! ’n Seiljag trek langs ons in. Ek en Archie kyk so lekker onbeskaamd vir hulle en lewer as’t ware “bal tot bal” kommentaar soos hulle al hulle aksies uitvoer.

Ons gaan vanaand vroeg slaap, want môre wil ons dou voordag opstaan, toue losmaak en voor die reën by ons volgende bestemming wees. Dit gaan net na 12:00 begin reën en dis 20 myl tot daar.

Çökertme.



11 Mei 2015.
 
Akyarlar tot Çökertme

Dit is Maandag. ’n Effe bewolkte grou Maandag. Sewe uur is ons op pad na Çökertme, 37°00.225 N, 27°47.253 O, ’n volle 24.4 myl. Die golf van Gökova is ’n ongerepte deel van die kus. Dis nie besaai met klompe huise van beton nie. Verseker is dit nie ’n betonoerwoud soos in die golf van Gülluk nie.

Rotse naby Akyarlar
Mooi berge


Ons geniet die berge en dale van die omgewing. Daar is ook ander seiljagte op die water. Gus lê nog, maar ons seil darem vir so ’n halfuur.

Oggendskoot - Toue
Berge en dale


Met die ingaan van die baai, sien ons dis ’n mooi plek. Aan die Noordekant, is die Switserse Alpe met ’n verskil - daar is olyfbome en die see. Hierdie is ’n stap paradys waar Deon du Plessis, ons vriend van Aliwal-Noord se wêreld, homself sal kan uitleef. 

Stap paradys


Hierdie is een van daai ankers met ’n “long line ashore”, wat eintlik moeilik is vir twee mense om te doen. Die boek sê:”...with bad holding at places”. Ons eerste anker is toe een daai plekke en ek trek ’n seetuin op, die alewige seegras! Ons gooi weer, die anker byt en die man van die boot langs ons in ’n dinghy, bied aan om die tou aan die land vas te maak. Archie vat nog ’n tou land toe en na ’n volle uur se gewerk, is ons eers vas. En julle dink dis vakansie!

Daar trek hy
Hou vasberade vas


Daar is belofte van reën in die lug. En nie elders nie, hier! Ons maak klaar om met Dinkie land toe te gaan, maar net toe ons wil klim, lyk dit of daai belofte waar word. Toe is ons ”all dressed up, but nowhere to go”. Ons bly maar op Maja, terwyl dit saggies reën. Daar was die enkele bliksemstrale wat my bietjie laat skrik het.

Belofte van reën ...
... nie elders nie


Ons eet heerlike boontjiebredie met murgsagte lam op ’n koue dek. Hulle voorspel reën vir môre, so die kaptein besluit om nog ’n dag te bly.