7 Mei 2015
![]() |
Asin Limani tot Sahil Adasi |
Ons Turkse vriende het nog nie kop uitgesteek nie, so ek groet hulle deur drie blomme in hulle ruitveër te sit. Hulle sal weet dis koebaai.
Ons het hier by Asin
Limani ingewurm, nou moet ons uitwurm. Ons dink dis net van uitgaan, maar
moenie glo nie. Ons neig al na die eenkant toe en dreig om vas te sit in die
buurbote, aan die stuurboord kant, se toue en ankerkettings. Dis al weer afstoot
en tru en anker uitlaat en weer optrek. Wel, almal kom darem ongedeerd daarvan
af. Die blerrie Gus. En weg is ons.
Ons is op pad na
Salih Adasi, 37°08.997 N, 27°31.933 O, net nege myl verder. Ek en Archie sit
afgehaal op die dek. Nie eers Maja se rustige geprrr beur ons op nie. Ons het
gedink die uitgaan sal so maklik wees. Ons hou nabetragting van hoekom die
losmaak en uitgaan nie vlot verloop het nie. Hemel, maar ons het nog baie om te
leer. Ondervinding en ervaring is ons leerskool.
Sahil Adasi |
Ons baai het helder,
deursigtige water. Ek kan sien toe die anker die bodem raak. Ten minste gooi
ons deesdae foutloos en sonder stry anker. Dis net jammer dat hier ’n bietjie
rommel op die water ronddryf. Ons kry twee besoekers, Drykie en Dakkie. Hulle is twee slim eende. Toe ons in die baai kom, kom hulle met 'n spoed aangeswem. Hulle is so oulik, ek voer hulle dadelik brood. As 'n volgende toerbootjie inkom, swem hulle weer daarheen en word gevoer. So vreet hulle swem-swem van boot tot boot.
Drykie en Dakkie |
Vanaand eet ons weer
vis. Archie het gou gister, nadat ons so heerlik aan die vis gesmul het, nog
een gaan koop. Gelukkig was die balik winkel nog oop. Ons gemoedere lig op soos
wat die son sak en die koel aandlug die baai vul.
Aandete |