11 Julie 2015. Saterdag.
![]() |
Panormitis tot Livadhia, Tilos Eiland |
Ons vertrek vroeg, voor sonsopkoms, want dit is ’n lang pad van 23.9 myl na Livadhia, 36°25.023 N, 27°23.135 O. Ons wil daar wees voor Gus. Die son kom mistig oor ’n slapende Panormitis Baai op. Die kloktoring sing vir ons ses slae as afskeidslied en weg is ons.
Die son kom op |
Twee-derdes van die pad is dit
rustige deinings wat Maja net liggies wieg. Ek is dankbaar vir die plat see met
die amper niks wind van voor. Toe daar volgens die GPS 8 myl is om te gaan,
begin Gus te waai. Eers net liggies en later sterker. Voor ons lê die dorpie,
maar dit lyk of dit verder gaan en nie nader kom nie.
Archie span die genoa en ons seil
’n ruk. Ek kan weer sê “ ’n ruk”, want Gus ruk aan daai arme genoa. Hy waai al
sterker en ons moet die lawaaierige seil met moeite intrek. Die dorp kom nader
en Gus waai al sterker. Ons is dankbaar toe dit stiller in die baai is. Dis ’n
klein hawe en gelukkig is daar plek. ’n Vasmeerman wys die plek aan ons en ons
vaar daarheen. Gus waai met vlae. Na ’n gesukkel is ons vas. Ek bekyk die plek
en wonder wat de moer doen ons hier vir drie dae.
Livadhia Baai |
Gus is hier in sy element. Sy
naam kom mos eintlik van die woord gusts
of gusting. Wel, hier hardloop Gus
met spoed van die berg af. Hy is ’n rukwind en ’n plukwind en ’n raaswind. Met
mening val hy vir Maja aan en hardloop dan verder, dan is dit skielik weer
doodstil. Dan kom hy weer. Gelukkig is ons stewig en veilig vas, anders sou ek
maar benoud gewees het. Ek is bly ek is nie nou op die see nie.
Die katte van Livadhia weet dis
etenstyd, want hulle verskyn en sit voor die jag waar hulle kos ruik. Hulle sit
ons so in die oë en kyk en sê saggies miaau. Ons gooi vir hulle oorskiet en
soos aasvoëls pyl hulle op die kos af.
Etenstyd |
Ek kyk om my rond. Niks romanties
en idillies omtrent hierdie eiland nie!
Hierdie Griekse eilande is snaakse goed. Dis bar, dor stukke klip wat bo die see uitsteek en dan noem hulle dit eilande. Geen lowergroen bome en plante met ’n kleurryke voëllewe en skoenlappers nie. Dis net warm en bar met sonbesies wat aanhoudend en luid sing. As mens dit sing kan noem. Dis hoe ek vir Tilos op die oomblik beleef. ’n Godverlate plek waar ek moet skuil vir Gus.
Hierdie Griekse eilande is snaakse goed. Dis bar, dor stukke klip wat bo die see uitsteek en dan noem hulle dit eilande. Geen lowergroen bome en plante met ’n kleurryke voëllewe en skoenlappers nie. Dis net warm en bar met sonbesies wat aanhoudend en luid sing. As mens dit sing kan noem. Dis hoe ek vir Tilos op die oomblik beleef. ’n Godverlate plek waar ek moet skuil vir Gus.