Thursday, June 29, 2017

Alonissos Eiland. O. Rousoumi.



28 Junie 2017. Woensdag.

Kyra Panagia tot Rousoumi Baai

Ek kan nie glo dat die lang dae so vêr agter ons lê nie. Dis nie 58 myl of 45 myl nie. Nee, dis nou net 14 myl. Dis eintlik net ’n hanetree vêrder na Rousoumi Baai. ’n Ormos is mos die Griekse woord vir baai. So O. Rousoumi is eintlik is Afrikaans Rousoumi Baai.

Ons is op pad na Alonissos Eiland. Die hoofdorp is Patitiri, maar ons bestemming is net langs die hawe. Ons het verlede jaar vreeslik geskud en gehop op daai kaai van Patitiri. Ek onthou nog dat Archie en Yvon in die nag opgestaan het om die vasmeertoue te verstel dat Maja nie moet seerkry nie. So vandag gaan ons anker gooi in die buurbaai, Rousoumi. Ons is eerste daar en kry weer die beste plek en gooi tussen die seegras, op ’n groot sandkol ons anker.

Patitiri

Die baai is eintlik ’n gelukkige vakansie strand. Mense, groot en klein, oud en jonk, vet en maer, mooi en lelik (nee, almal is mooi, want hulle klink so gelukkig) geniet die warm Griekse dag op die strand. En dis nogal ’n sandstrand, nie klippies nie.

En as jy nou wil sien hoe geniet die kinders die branders, dan moet jy sien as die groot veerbote na Patitiri se hawe gaan. Dan maak die ou reuse mos golwe wat op Rousoumi se strand uitspoel. Dan speel almal in die luuksheid van branders, totdat die see weer gaan lê. Een seuntjie het skoon weggehardloop oor die branders so “groot” was. Ek sal graag wil sien wat maak die kinders met Suid-Afrika se branders.

Ander tieners spring by die kranse af in die see. Ai, maar dis lekker om alles om my gade te slaan. Ons kyk ook hou sukkel die ander mense om hul ankers te laat byt. Seegras is maar ’n bogger om ’n anker in te laat byt.

Ons vat vir Dinkie en gaan land toe. Ek laat eintlik my knieë rus, so ek loop net die trappe op en kyk oor die baai uit. Archie loop verder. Die strand is vol mense en ek kyk na stralende gelukkige gesigte en hoor laggende kinders.

Strand

Onder in die baai lê Maja, saam met al haar vriendinne. Terug by die boot, gaan kyk Archie met die snorkel in die helder water of die anker nog reg is en sommer ook na die anker van ’n Franse omie wat alleen sy anker gegooi het en dit nie eers getoets of dit gebyt het nie. Archie kom terug en doen verslag – ons anker lyk pragtig, maar die omie se anker lê sommerso bo-op die sand, glad nie gebyt nie. Ek hoop vir sy part dat die wind nie vannag gaan waai nie.

Rousoumi Baai

Dit is ’n windstil aand, maar die see rol van vêr af in en ons wieg saam. Die omie se anker hou…

Kyra Panagia Eiland. O. Kyra Panagia



27 Junie 2017. Dinsdag.


Planitis Baai tot Kyra Panagia Baai

Anker op en weg is ons, soos gewoonlik. Altyd op pad. Ons vaar al langs die mooiste klippe en kranse en rotse en grotte. Dis regtig ongerepte natuur in die omgewing. 

"Waar die kranse antwoord gee …"

Ons vaar verby ’n klooster, hoog op teen die berg. Nie baie mooi nie, maar dis ’n regte egte werkende klooster. Selfvoorsienend. Daar groei olyfbome, plant groente en het hulle eie sonpanele. Ek staan altyd verstom as ek na kloosters kyk. Soveel toegewyde edel harde hande-arbeid. 

Klooster

Ons vaar om die hoek en nader ons baai. Ons is omtrent eerste daar en kry die beste ankerplek. Dis pragtig in die baai en die water lok mens na binne. Dis nou verseker somer in Griekeland. Ons swem gedurig om af te koel. Die lou water is ’n lafenis is die snikheet sonwarm dag.

Later kom anker nog ’n klomp seiljagte hier. Ek het nie geweet die baai het plek vir so baie bote nie.

Kyra Panagia Baai

Ons geniet dit hier in die pragtige baai.

Kyra Panagia Eiland. O. Planitis



26 Junie 2017. Maandag.

St Evstratios tot Planitis

Ons maak klaar en vertrek bietjie later, so 06:30, met die hoop op bietjie wind. Die kruising is die wind gewoonlik van agter en as die wind lekker waai, kan jy met groot spoed seil. En weg is ons na O. Planitis, 45.3 myl.

Gus is baie aspris en lê nog so bietjie. Later waai hy lui-lui, maar alle bietjies help en ons span die seile, hoofseil en die genoa. Dit help so bietjie, want ons handhaaf darem ’n gemiddelde spoed van 5.7 knope en die wieg is minder. Ons motorseil die hele pad en die 45 myl voel eintlik langer as die 58 myl van gister.

En toe is ons in die Sporades. Ons vaar na ons eiland toe en die rotse wat in die see staan, is pragtig en baie ru. Hierdie omgewing is ’n Marine Reservaat en hier is niks mense wat hier bly nie en geen  geboue nie. By die eiland, Piperi, mag jy nie nader as drie myl aan die eiland verby seil nie. Dit herinner ons aan die pragtige Turkse landskappe waarvoor ons so lief is.

Piperi Eiland
Naby Planitis

Ons vaar die baai binne, Archie soek plek en ons gooi daai anker. Ons is baie trots op onsself – 103 myl in twee dae! Welgedaan ons! Ons gaan nou hier by baaie anker tot ons Sondag vir Zané en Pieter by Skiathos (nie meer Alonissos nie, maar hulle weet nog nie) kry vir hulle toer saam met ons op Maja.

St. Evstratios Eiland.


25 Junie 2017. Sondag.

Molyvos tot St. Evstratios

Ons staan douvoordag op. Die getroue kaptein maak koffie en ek is wakker. Binne ’n ommesientjie is Maja gereed en teen 05:10 is die anker op, die toue los en ons vaar in die oggend skemer uit die hawe. Almal is nog in droomland toe ons die lang pad van 58 myl na Evstratios toe aandurf. Vir ons is dit baie vêr.

Die son is nog lank nie op nie, toe span ons al die seile. Gus waai nie sterk genoeg nie en ons motorseil die hele pad. Ons gemiddelde spoed was 6.3 knope en ons topspoed was 7.3 knope. Dis nogal goed, want Gus is maar aan die flou kant. Die see is natuurlik lekker plat en ons vorder vinnig en maklik.

Ons motorseil

Die pad gaan eintlik besonder gou verby. Ons seil oor ’n skeepsroete waar die groot skepe vaar na Istanbul en ons moet omtrent kophou. Hulle kom van regs en links. Soms moet Archie vinniger en soms stadiger om botsings te vermy. In ’n stadium tel ek elf skepe op die see wat kom en gaan. En hulle is almal bietjie groter as ons.

Tussen die groot skepe

Teen 13:45 kom ons by die barre eiland, Evstratios aan. Ek is baie dankbaar dis verby en dit was eintlik so maklik.

In 1968 het ’n aardbewing baie van die huise op die eiland vernietig en die bevolking het verminder tot omtrent 300, waarvan almal op die vissersdorpie bly. Die res van die eiland is rotsagtig en onvrugbaar en dor. Tot onlangs is politieke gevangenis na dié eiland toe gedeporteer.

St. Evstratios dorp
Huisie
Kleinboot hawe

Die plek is ’n welkome stopplek vir die seekruissers tussen Lesvos en die noordelike Sporades. Die hawe is groot, maar ons weet nie waar om alongside te gaan nie. Die kaaie lyk so asof dit vir groot bote gemaak is. Ek staan met die toue in die hand en Archie trek langs die kaai in. Daar loop twee mans en ek roep hulle om die toue te kom vang. Hulle draf so ewe nader. Die een, sou ek later hoor, is toe die kaptein van die oorlogskip wat in die hawe is!

Toe ons klaar vas is, sê die een man dat dit eintlik die veerbote se stopplek is. Ons maak maar weer los en die twee manne draf na die volgende plek toe wat hulle aanbeveel. Hulle vang weer die toue. En vas is ons. Toe kom die hawemeester daar aan en sê vir ons waar ons nou staan, kom soms groot bote in en as hulle kom sal ons moet skuif. Ag my magtig!

Archie gaan kyk by die kleiner kaai en sê die plek is reg vir ons en toe skuif ons sommer self en gaan maak daar vas. Daar kom ’n vissersboot in en al die manne staan nader om die vangs te beskou. Maar dis nie visse nie. Archie staan ook ewe nuuskierig nader om die doenigheid te beskou. Hulle hang nette vol goed aan die buitekant van die boot op dat dit in die water hang. Dis toe die hele tyd spons. Die sponsduikers het spons gaan uithaal. En baie hoor! Ons het nie geweet hier is nog spons in die see nie. Gedog dis alles al klaar uitgeduik.

Finale vasmeerplek
Spons agies

Toe is ons gelukkig en tevrede en is reg vir die nag. Die adrenalien vloei uit my lyf en word vervang met ’n totale allesoorheersende moegheid. Ons eet net Weense (?) worsies en mosterd met slaai en toe dit donker word, is ons in die bed.

Môre is ons volgende lang seekruising. Ai, die lewe van ’n seilende sigeuner …