Tuesday, September 3, 2019

Lesvos Eiland. Mytilini Marina.

1 tot 3 September 2019.

2019 totale roete
 
Vandag is ons laaste vaart vir die 2019 seilseisoen. Ons trek anker op en vertrek uit die klein baai. Gus waai lekker rustig. Wat 'n heerlike manier om die seisoen mee af te sluit.
 
Sonopkoms oor Turkye
Laaste vaart
Rotsformasie
Kaptein
 
Ons weet dat die wind nader aan Mytilini sterker gaan waai, masr dit sal van agter wees. En dis toe net so. Bietjie sterker, maar nie soos in Waaivalik (Ayvalik) nie. Die bekende ou kasteel op die heuwel, heet ons welkom by die hawe. Gus waai baie ligter hier.
 
Mytilini kasteel
 
Ons roep die hawepolisie en verwittig hulle dat ons wil inklok en 'n engel uit die hemel met 'n donkerblou polisie uniform kom vang ons toue. En vas is ons. Nou is dit paspoort kontrole toe om ons paspoorte te stempel. Die amptenaar kyk ons so en vra of ons weet dat ons nog net vyf dae in Griekeland mag bly. Ons weet dit terdeë, dis waarom ons so vroeg ophou seil. Ons moet uit Griekeland, want anders word ons onwettige immigrante en die tjoekie is ons voorland.

Ek gaan terug boot toe en Archie durf die doeane en hawepolisie aan. Terug op Maja kry ons reuse bure. Ek voel omtrent soos Jan en die boontjierank, maar daar is nie net een reus nie, daar is drie!

3 Reuse
 
Archie kom terug, ons is gewettig en ons vaar na Maja se winterheenkome in Mytilini Marina. My rug, eintlik boudspier, is nog steeds seer van toue trek. En steeds moet ek gedurig nog toue trek. Dis maar die lot van 'n matroos!

Die groot werk begin. Maja word gewas. Toue word afgehaal en Dinkie geweek. Enjin se olie word gedreineer en nuwes word ingegooi. Ratkasolie word vervang. Die enjin word gespoel met vars water.
 
Boot word gewas
Toue word geweek
Maak ankerboks skoon
Olie word geruil
 
Die stuurwiel word afgehaal en gebêre. Die instrumente paneel word toegemaak en Sullivan se rooi sak  kom handig te pas om dit waterdig te hou. Dan maak Archie dit met nog 'n blou seil ook toe. 

Sullivan se rooi sak
 
Fenders word aangetrek en op belangrike plekke gehang. Maja gaan hierdie jaar in die water oorwinter. Toue word uitgesit, veral teen die suidewinde van die winterstorms. Die genoa word afgehaal en gestoor. Dinkie word afgeblaas en gaan rus ook in die stoorkamer.

Fenders word aangetrek
Dinkie kom aan boord
Toue word beplan
 
Werk, werk, werk. Die 4de September neem ons die 9:00 veerboot na Waaivalik en dan die 12:00 bus na Istanbul. Ons kom 20:00 in Istanbul aan, dan oornag ons in die nabygeleë, vreeslik lelike Lieder Hotel.

Die volgende dag klim ons die trein na Bucharest, Roemenië.

Wie weet waar?

31 Augustus 2019. Saterdag.

Vandag gaan ons uitklok. Tot siens Turkye! Eerstens moet ons gaan diesel ingooi. Die marina man is op sy pos in sy dinghie. In hierdie wind sal ons nooit alleen kan alongside nie. Ek is al so moeg vir my eie ou windstories. Dis al waaroor ek deesdae kan skryf. Wind, wind en wind. So vreeslik vervelig. Die winde van Waaivalik  waai waarlik weer woes. Wind, wind en wind!

Twee manne van die brandstofstasie is gereed op die kaai om die toue te vang en die dinghie stoot Maja nader aan die kaai. Gus wil ons weg van die kaai waai. Ons gooi diesel in en toe vat ons die pad na die veerboothawe waar ons moet uitklok.

Gus waai tussen 20 en 28 knope. En soms kry ons ook 'n heerlike 31 knope! Hoe de moer gaan ons hier by die hoë kaai vasmeer! Gus waai 'n bietjie ligter  aan die kant van die hawe. Daar is 'n jongman in die veerboot met 'n tuinslang. Hy spuit die vloer skoon. Ek roep hom. Hy kom help, maar na twee pogings, is ons nog steeds nie vas nie. Gus waai Maja doodeenvoudig weg van die kaai af. Dan is een tou vas, en die ander toue kom nie by nie, want ons is al te vêr van die kaai gewaai. Maak dan die tou los en probeer weer.

'n Ander man kom beduie vir ons dat ons op 'n ander plek moet vasmaak en help met die toue en ons is vas en uitasem en my rug is seer van al die toutrek.

Wel, ons gaan hawepolisie toe en die man wat ons tou gevang het, gee vir ons 'n briefie waarop daar in Engels staan ons moet hom 140 tl betaal vir die vasmeer. Dit is R350.00! Archie sê hy wil dan 'n kwitansie hê. Die man vra hom toe nie weer vir geld nie. Skelm! 

Toe vertrek ons uit Ayvalik, waar die wind altyd waai. Ons vaar so skeef-skeef na ons nuwe bestemming, 16.6 myl. Die windvlae peper ons, maar hoe verder ons van Ayvalik wegvaar, hoe rustiger word die see én Gus.

Ons bestemming is 'n snaakse baai wat aan weerskante onderwater rotsplate het. Ons vaar maar versigtig in en gooi drie keer anker voordat ons tevrede met die posisie is. As jy hier anker sleep, strand jy op die rotsplate. Maar is dit salig! Dis rustig, sonder sterk wind. Hemels!
Ankerplek
Strand meubels
Ons bring ons laaste ankeraand rustig deur. Kalmte daal op ons én die baai neer. Hemels en salig.