Friday, September 26, 2014

Turkye. Cappadocia. Kiliçlar Vallei.

23 September 2014. Woensdag.

Vandag is stapdag. Ons gaan die Rose- en Red Valleys in Göreme aandurf. Gestewel en gespoor vat ons die pad. Of so dink ons.

Rose Valley?

Ons stap heerlik. Ons kry ander stapgroepe langs die pad. Hulle het toergidse. Gelukkig het ek ook 'n toergids, ou Arch.

Wel, die Red- en Rose Valleys het ons ontglip. Ons het nooit daar uitgekom nie. Ons land toe in die Kiliçlar Vallei. En ou Arch geniet hom gate uit. Hy klim en klouter in die rotshuise. Van vloer tot vloer. Dis 'n groot avontuur.

Archie by tweede verdieping venster
Archie by derde verdieping venster
Binne-in rotskamer 

Op 'n stadium verlei Adam vir Eva met 'n trossie wilde druiwe wat hy pluk. Ek eet die hele tros op. Terwyl Archie so in die rotswonings rond klouter, ontdek ek nog vele ander variteite van druiwe. Dis ronde klein groenes en lang groenes. Dis ronde en lang swartes. En ek eet my knuppeldik. Kyk, ek hou baie van druiwe.

Ons stap verder en kom op ou rotskerke af.  Om elke hoek en draai is daar 'n mooier en interessanter rotsformasie.

Rotsformasies
Rotsformasies
Rotsformasies

Die paadjie neem ons later deur 'n nou kloof. Archie moes my twee keer as't ware optrek, maar dit was ongelooflik. Die nou pad, die styl regop kranse, net ons twee alleen in die natuur.

Daardie mense het hulle kap geken, want ons kom af op 'n lang onderbroke tonnel van honderde meters. Hulle het dit waarskynlik gebruik om water te kanaliseer. Dadelik klim Archie in die tonnel en hy stap daardeur terwyl ek bo stap. Elke nou en dan sien ek hom voordat hy weer in die tonnel verdwyn.

Die hele dag was 'n heerlike ondervinding. Ek hou maar van stap.

Turkye. Cappadocia. Goremi.

23 September 2014.  Dinsdag.

Ons ry die hele nag bus en 04:13 maak die buswaard ons wakker.  Hulle laai ons, in die donker nag, sommer so langs die pad af. Daar staan ons toe, ek en Archie en nog 'n arme drommel. Ons weet nie herwaarts of derwaarts nie.

Gelukkig vir Goolgle Earth, Archie en die hulp van 'n vreemdeling in die nag, kies ons sak en pak koers na ons Guvën Cave House. Dis 04:30 en gelukkig is hulle voordeur oop en ons gaan binne. Ons kan eintlik ons kamer eers 13:00 kry.

'n Deur-die-slaap man kom daar aan, gee ons 'n kyk, kry ons jammer en sê ons kamer is gereed, ons kan maar solank gaan. Die Turke loop 'n ekstra myl vir 'n mens. Ek het net oë vir daai bed en toe hy sy rug draai, is ons tussen die vere en ons slaap.

Göreme is 'n sprokiespaleis met 'n anderwêreldse skoonheid. Gevorm deur vlae en lae vulkaniese as en miljoene jare se reën en die vloei van rivierwater, het die landskap gevorm.

Die Christene het hier kom skuiling soek en die sagte gesteentes benut en omvorm tot wegkruipplekke in die rotse en selfs onder die aarde gegrawe. Vandag nog kan jy die baie muurskilderye in die baie ondergrondse kerke sien.

Vandag besoek ons die opelug museum, wat ook 'n Wêrelderfenisgebied is. Dit was eers 'n Bizantynde klooster wat twintig monikke gehuisves het en van die 17de eeu het dit 'n pelgrimsgebied geword.

Pottebakkery oppad na museum

Wat 'n gesig! Elke veetjie toring is gebytel en gekap en uitgegrawe en is tot huis of kerk verklaar.

Uitgeholde rots
Elmali Kilise (Appelkerk)
Kerkgraf
Opelug museum
Uitsig oor die vlaktes
Opelug museum

Oppad huis toe neem ons 'n alternatiewe roete tussen deur die rotsformasies. Dit is so sprokiesmooi, en ons vergaap ons aan alles. Oral is gate, of eintlik vensters en deure van ou wonings. Mense het hier gebly. So in die rotse.


Feetjie wêreld
Vreemde landskap
Archie en ek
Rotse met deure en vensters

 Ons geniet die staptog terdeë.