Mei 2014. Dinsdag.
Ons het skaars begin seil, en ons is al klaar deurmekaar met die dae. Maandag voel soos Sondag, Dinsdag is Maandag. Wel, vandag is toe Dinsdag en ons vertrek lekker vroeg, 06:15 na Kyllini (37° 56.134 N, 21° 08.196 O). Dis ver soontoe, 38 myl. Maja is nog vas met al Benito se ekstra toue, en dis omtrent 'n storie en 'n half om alles los te kry en netjies op die kaai vir hom te los. Hier in Griekeland sal hulle dit nie sommer steel nie.
 |
Grasieuse Kaptein |
Die kaptein seil met grasie uit die marina, oppad na die 2014 se avontuur. Dis windstil en die see is lekker plat, net soos ek daarvan hou. Maja prrr ritmies voort. Kort voor lank is Patra, ons huis vir'n hele week, net 'n mistige berg met 'n hoed op.
 |
Totsiens Patra |
 |
Roetebeplanning |
Ons gaan om die draai (as mens dit so kan noem, want dit neem ure om om die draai te kom) en daar is 'n ligte windjie van skuins agter en Archie is lus vir seil span en ons span die hoofseil. Toe motorseil ons verder vir 'n lang tyd. Dis nie eintlik mooi hier nie, dit is net ons stopplek vir die nag en die roete om ons by die eiland Zakynthos te bring.
 |
Kaptein en sy seil |
Stadig maar seker nader ons die kaai van Kyllini. Ons maak gereed. Die seil word ingetrek, fenders word uitgehang, die anker word gereed gekry. Ons is senuweeagtig, want ons het lank gelede op die Griekse manier vasgemeer. Dit werk mos nou weer so - jy kry die boot in posisie, gooi anker en tru na die kaai. Die anker moet byt en Maja moet na genoeg aan die kaai wees vir Archie om soos 'n springbok af te spring, ek vat helm (stuurwiel) oor en Arch maak vas. Ek voel nou lighooftig.
(As ek praat van " die boek", praat ek van die "Greek Waters Pilot" waarsonder jy nie kan seil nie. Dit gee jou die dieptes en rotse en gevare en alles wat jy nodig het om veilig te seil).
 |
Kyllini |
Die boek sê dis vlak, maar noem dit nie as 'n gevaar nie, so ons vaar nader. Daar's 'n groot oranje boei in die water wat die boek nie eers noem nie. Watter kant moet ons gaan? Links of regs? Ons besluit links.
 |
Die #%@&# drom! |
Archie ry baie stadig en versigtig. Die dieptemeter begin te piep-piep-piep. Dit beteken daar is nog 'n meter water onder die kiel. Wel, die volgende oomblik steek Maja in haar spore vas en ons strand, vier voet vas in die sand. Ek gee 'n gil dat die kranse antwoord gee. Archie sit vir Maja dadelik in tru en gee vet. En genade op genade, ons beweeg agteruit! Jy sien net 'n groot bruin kol in die water soos arme Maja stof opskop. Ek kyk mooi met my polarized bril en sien al die kolle sand onder die water. 'n Seiler en sy vrou op die kaai beduie vir ons die regte pad (regs van die boei) en ons vaar die hawe binne met broeke wat bewe en wit gesigte en klem in die kaak.
Ons gooi anker en tru en hulle vang die toue en vas is ons.
Ek en Archie was altwee 'n bietjie stomgeslaan, woordeloos en baie moeg. Ons het groot geskrik en dis glad nie lekker om te strand nie!
Na 'n 7h42min, 'n lang dag, 'n groot skrik het alles tog goed afgeloop en ons is veilig in die hawe. Met 'n bietjie skande, maar sonder skade word ons wys. Al julle outjies wat kom saam seil - moenie kom sonder julle polarized brille nie! "You will be put upfront, to con the way in..."
Die drol in die drinkwater is dat ons selfoon se hart met die stranding gaan staan het en nou het ons geen internet nie.