18 Augustus. Vrydag.
 |
Portocheli tot Ermioni via Dhokos |
Archie gaan na die hawepolisie toe om die nuwe
bemanning se name op die lys te kry. Michelle en Johan gaan koop vars brood en
ek en Michelle gaan koop vars vis by die visserman se bootjie. Ons wag vir die
waterman. Hy het gesê hy kom 9:00, Griekse tyd. En dis omtrent Griekse tyd,
want 10:00 besluit ons maar om te ry, sonder water.
 |
Broodkopers |
 |
Koop vis |
Almal maak gereed. Archie agter die helm, Michelle
gereed met die fender om af te keer en Johan by die toue. Ek trek die anker op.
Alles gaan goed, totdat die bure met die klein motorboot se anker saam ons s’n te
voorskyn kom.
Ek sê vir Archie ons het ’n anker, maar hy kyk my
net aan. Neem my glad nie ernstig op nie. Ek weet nie wat hy eintlik gedink het
ek sê nie, maar ek vra vir hom of ek die helm moet oorvat dat hy die anker moet
loshaak, toe besef hy hier is iets aan die gang.
Mev. Boon vat toe die helm oor, maar die wind waai
ons al verder met die twee ankers en al. Oral staan manne by hulle anker en
skree raad vir my. Een van die groot bote se manne sê ons is “too close, too
close” aan sy anker. Ek roep benoud na Archie en sê hy moet die helm oorneem en
die situasie red. Wat hy ook meesterlik doen. Hy vaar met die anker tot regoor
die klein motor se posisie en Johan gooi die anker sekuur op die regte plek in
die water. Wat ’n verligting! Nie net vir ons nie, maar vir almal wie se ankers
in gedrang was.
 |
Gooi anker terug |
En toe vertrek ons na Nisos Dhokos, 13 myl. Gus
waai en ons span die seile. Michelle en Johan help en alles verloop volgens plan.
Ons seil amper vir twee ure en Johan is agter die stuur van sake. Die kaptein en sy bemanning besluit ons vat
die lang pad na Dhokos Eiland, want dan kan ons verder seil. Dan waai Gus nie
van voor nie.
 |
Ons vertrek |
Hemel, maar in ’n stadium waai daai Gus 30 knope
en ons beur teen die wind. By Dhokos gekom, is die eerste baai vol en by die
tweede baai, rol die deinings een vie een in. Toe is daar net een plek vir ons
oor en dit is Ermioni, 22.6 myl van
Portocheli af.
 |
Rol tou op |
 |
Johan agter die helm |
 |
Windverwaaid |
 |
Michelle en Johan |
Ek voel sommer tuis, want ons was anderdag ook hier. Ons gooi
anker en vas is ons.
Michelle en Johan kry hulle eerste swem. Hulle baljaar en swem en in die proses swem Michelle in die see-egel op die rots vas en kry n hele hand vol see-egel dorings. Archie en Johan probeer dit uithaal. 'n Pynlike stadige proses en nie almal kom uit nie. Eina pyn.
 |
Eerste swem |
 |
See-egel (sea urchin) skade |
Die twee jonges van dae neem vir Dinkie en gaan ondersoek
die droë grond. Hulle stap na die kerk toe, stap in die woud en drink ’n lafenis
by die oudste Taverna in die Saronic see. Maar sowat van onvriendelike en
ongeskikte mense het ons lanklaas ervaar. Michelle en Johan bly sommer baie lank
weg en kom amper donker terug.
| |
Gaan land toe |
 |
Ermioni panorama |
 |
Johan en Michelle by Ermioni |
Ons eet heerlike vars vis wat ons die oggend by
Portocheli gekoop het.