Saturday, September 7, 2019

Reis na Roemenië. Deel 2.

5 en 6 September 2019. Donderdag en Vrydag.
Ons trein is uiteindelik gereed en 21:30 klim ons. Jy moet seker maak jy is in die regte wa, want die Bucharest wa word later afgehaak en aan ander lokomotiewe gehaak. Ek en Archie is alleen in die vier-bed wa. Wat 'n geluk. Ons slaan ons slaapbanke af en sit langbeen, net soos op Maja.
Langbeen sit
Lees lekker
Ons gaan slaap en so teen 01:35 maak hulle ons wakker. Ons is by die Turkye-Bulgaarse grens. Almal uit en hul stempel ons paspoorte. 'n Ent verder neem hulle weer ons paspoorte in. Nou is ons wettig in Bulgarye. 

Ons ry die trein, ons ry die trein, ons ry die Turkse trein. Die landskappe flits verby. Dan stop ons, dan wag ons, dan ry ons weer.
Bulgarye deur die venster
By een stasie staan  ons vir amper twee ure stil. Ons wa word afgehaak en aan ander lokomotiewe gehaak. Gedurig. Na 'n lang pad is ons by die Roemeense grens. Weer paspoorte in om te stempel. Ons kruis die Blou Donau met die langste staalbrug oor 'n rivier in Europa. Die Blou Donau flits verby. Ons is in Roemenië!
Blou Donau
Blou Donau
Bucharest groet ons 19:05 met 'n miernes van mense. Ons voel vreemd. Maar ou Archie koop sy internet, metro kaart en daar klim ons en ons tasse die metro en ry na ons woonstel.

En ons is tuis, vêr van ons kleine Maja in 'n lugversorgde woonstel.


Reis na Roemenië. Deel 1.

4 en 5 September 2019. Woensdag en Donderdag.

Ons reis na Roemenië begin toe ons opstaan, klaarmaak en vir Maja groet. Archie kry ons tasse met die hulp van my en die passerelle van Maja af. "Tata Maja", stort 'n traan, klim in die taksi en veerboot toe met ons. Dis 'n pragtige dag in Mytilini. Die veerboot vertrek. Die see is sag- golwend.
 
Marina vroegoggend
Reg vir "southern gales"
"Blou ballas"
Tata Maja
 
Tot ons driekwart pad is. Toe begin Waaivalik se wind. Gus met sy legioen perde kom aangehardloop. Maar die veetboot voel 'n veer. Wieg net liggies in die sterk wind. Ons vermoede is bevestig. Die wind waai regtig áltyd hier in Ayvalik. Die veerboot meer vas en ons klok in Turkye.

Ons klim die dolmuş otogar toe, klim toe 12:00 die groot Metro bus na Istanbul. Daai winde waai die bus behoorlik hot en haar. Dis hiérdie winde wat sterk van die binneland tot in Ayvalik waai. Ek kan maar net nie wegvlug van Gus nie. Die kalant volg my waar ek ook al gaan. Ons kom 22:00 by die otogar in Istanbul aan.

 Almal klim af, wat vir ons na 'n taamlik onbekende plek lyk. Archie vir ons 'n kamer vir die nag in die Lider Otel bespreek. Die busbestuurder sê ons moet af, die rit is klaar. Gelukkig sê Archie vir hom ons moet Lider toe. Hulle is so gaaf om ons by die hotel af te laai. Ons ry eers saam met die bus in die busterminaal se benoude binnegoed rond. Dit is nog net ek, Archie en 'n ander vreemde man in die bus. Dis draaie en beton en lae mure. Die ondergrondse pad lyk vir my na die ideale plek vir 'n reeksmoord. Sê vir Archie ek sal nie graag in die nag hier wil loop nie. Ons groet die bestuurder met die hand.

Die Lider Otel is maar kommin, maar sooo gerieflik naby. Ons is dankbaar om heerlik te stort, ons kop op 'n kussing te kan neerlê en 'n welverdiende nagrus te kry.
 
Lider Otel
Uitsig van ons kamer
 
Die volgende dag los ons die bagasie in die hotel en gaan vroeg dorp toe. Sultanahmet toe. Ons bekyk die Blou Moskee en Aghia Sophia. Ons gaan besoek die cistern. Geniet die atmosfeer van Istanbul.
 
Blou Moskee
Aghia Sophia
Traankolom
Medusa
Sultanahmet
 
Ons verlaat die hotel om 12:00. Twee metro ritte verder en ons is by die Halkali stasie waar ons kaartjies koop. Hier op die nuwe stasie is daar geen kafees of iets nie. Die kaartjieverkoper sê ons moet met die metro drie stasies terug gaan, want daar is kafees waar ons kan wag.

Toe begin die groot wag van agt ure, tot 21:40, vir ons trein na Bucharest. Archie koop vir ons 'n döner en ons sit in die park en eet. Die bankie raak te hard en ons sleep ons tasse na Madam Jackie en drink koffie en eet 'n stuk kaaskoek. Ons sit 'n paar ure daar.
 
Madam Jackie
 
Toe gaan ons terug metro stasie toe en vat die metro terug Halkali toe. Ons sit toe vir nog 'n uur of wat daar. Almal wag daar en almal het 'n sak vol kos vir die 21-uur lange treinrit.