Wednesday, September 2, 2015

Mavrolimnis. Stapdag.



2 September 2015. Woensdag.

Ons staproete
  
Vandag is stapdag. Ons is lus vir stap. Nadat ons pannekoek geëet het, vat ons die pad, berg-op. Dis ’n motorpad en lekker steil op. Tussen die dennebome met hulle koel, vars groen kleur. Dit word later ’n twee spoor pad en ons stap lekker tussen die bome en heuwels, met die blou see aan die eenkant. 

Dennewoud


Vêr daar in die see, lê die plat eiland waar ons op anker gelê het. Ons loop verder en verder. Voor ons is die hoë berge wat ons gesien het toe ons in Korinte was. Die pad maak kronkels en draaie. Ons neem ’n kortpad teen die steilte af om ’n paar km minder te loop. Dis baie steil en my knieë is mos moer toe. Archie help maar waar hy kan tot ons af is en toe loop nonchalant verder. 

Kuslyn
Stille waters


Die pad is sekerlik nie meer in gebruik nie, want dit is lelik verspoel. Ons stap en stap en geniet die uitsigte en die natuur. Onthou, stap is eintlik my eerste liefde.

Ons kom heelwat later weer by die teerpad uit en loop verder. Archie stel voor ons swem deur die kanaal, want dan hoef ons nie so vêr om te loop na Maja toe nie. Hy het ’n bak opgetel en al ons goed wat nie nat mag word nie, word daarin gepak. Archie swem met die bak oor en ek met my klere en die stapstok. Die water is heerlik koel op ons warm lywe. Papnat stap ons na Maja. Moeg en tevrede na die 7 km wat ons vandag gestap het.

Kortpad deur die kanaal
Hawe
Aandskoot
Pensive


Ons bly lekker hier en kyk weereens hoe die son die lug verskillende verf en die wolke verkleur in skynsels van pienk en pienker en pienkste.


Pienk, pienker, pienkste.
Rooi?


Mavrolimnis.



1 September 2015. Maandag.

Zoodhochos tot Mavrolimnis


Gelukkige Lentedag vir julle in die Suidelike Halfrond!

O, Ryperd, ons vaar die pad tesame ... Al weer groot deinings, Gus waai nog steeds met vlae wat ruk en pluk. Ons gaan na ’n mensgemaakte lagoon, Mavrolimnis, 38°03.639 N, 23°06.192 O, 7 myl. Dis baie beskut teen alle winde.

Die probleem is net dat dit ’n baie klein ingang het en jy moet die haweman oor die radio kontak on te hoor of dit diep genoeg is om deur te gaan. Die ingang slik toe. Ek kontak, maar niks. Archie roep oor die radio, maar niks. Toe vaar ons maar nader om die sake uit te kyk.

Archie put me up front to con the way in en die een kant is geel van vlakte. Daar is gelukkig ’n paar klein boeie om die vlak te merk. Ons trek ons boude in en hou asem op en vaar in. Die dieptemeter piep-piep, maar ons is deur.

Nou soek ons vasmeerplek. Daar staan ’n outjie op die kaai en wink en ons vaar nader. Daar is ’n boei in die water en ons vra hom of ons die boei moet gryp. Soms is die vasmeertou aan ’n boei vasgemaak wat ek dan met die boothaak moet optel en aan die snoet moet vasmaak, terwyl Archie na die kaai toe tru.  Die outjie praat en praat, maar dis net Grieks. Ons verstaan nie wat hy sê nie en hy verstaan nie wat ons vra nie. Moet ons die boei optel of nie? Hy beduie nie eers nie, praat net land en sand.

Ek tel die boei op, maar dis te swaar. Archie kom help en hy sukkel. Hy kry een van ons eie toue en maak dit aan die boei vas. En die outjie praat en kyk sooo vir ons. Archie tru in en hy vang die toue en maak vas. Toe haal hy ’n swart tou uit die water wat ons moet gryp. Kon hy nie verdomp so beduie het nie, of vroeër die tou gegee het nie. Die hele gesukkel met die boei was puur verniet. Ons gooi die boei terug in die water.

Mavrolimnis
Ek en Maja


Laatmiddag gaan stap ons ’n ent op die teerpad langs die see en eet wilde brame. Ons sien die kontras van die stil water in die lagoon en die bewegende water van die see. 

Stap langs die see
De rijke brameplukker

Maja in Mavrolimnis

  
Ons gaan vir twee dae hier bly.

Zoodhochos. Ooo Ryperd ...



31 Augustus 2015. Maandag.

Korinte tot Zoodhochos

Ons is glad nie spyt dat ons Korinte moet verlaat nie. Ons gaan vandag na ’n klein eiland, Zoodhochos, 38°06.705 N, 22°59.503 O, 16.8 myl. Gus waai en ons waai ook. Die vraag is net, hoe kom hier uit? Die spasie is klein en Gus waai ons al weer teen die kaai vas. Benoude boude!

Archie bedink die saak die kant toe uit en dan daai kant toe. As hy die tou losmaak, gaan ons die kant toe en as hy daai tou losmaak, gaan ons daai kant toe. Maak nie saak hoe hy uitwerk nie, die feit is Gus waai ons teen die kaai vas. Ek weier om agter die helm te wees, so ek moet toue losmaak en afstoot. Die buurman kom gelukkig help. Ons eerste probeerslag werk nie en ek maak gou weer die middelste tou vas.

Ons probeer weer. Tou los, buurman en ek stoot, Archie gee woema en die buurman sê: “It is turning!” Maja draai haar snoet weg van die kaai, ons keer vir haar stêre dat sy nie stamp nie en weg is ons. Ons en die buurman is ewe bly.

Hemel, maar Gus gooi ons met sy windvlae en rukwinde. Hy ruk en pluk. Dis die ergste wind wat ons nog die jaar op see gehad het. Maja tril skoon!

Ons gaan om die draai en dis nie veel beter nie die deinings kom aangerol en die winde ruk, natuurlik van vooraf. Dis net seeperdjies. Dis toe dat die liedjie in my kop kom. “O Ryperd, ons vaar die pad tesame ...” Daai Ryperd ry en ons ry saam. 

Om die draai


Ons sien ons ankerplek en dit lyk nie so goed nie. Gus stuur nog steeds sy rukwinde om aan ons te pluk. Ons vaar die baai binne en gooi anker. Die wind waai, maar die see is kalm en plat. En ons is tevrede en voel selfs veilig. Dis baie beter as wat dit gelyk het. Ons gaan nie eers land toe nie, want Gus is te lastig.

Daskalio Eiland en Zoodhochos Eiland met sy klooster
Zoodhochos Baai


Later die aand bedaar Gus ’n bietjie, maar gaan lê nooit nie. Ons anker hou pragtig (ons het mos die anker alarm op die selfoon) en ons slaap rustig.

Nog 'n dag is verby