23 September 2016. Vrydag.
Dit reën. En dis koud en ek wag vir
die weer om op te klaar. Dit word ’n pragtige dag en 15:00 gaan stap ek in die
valleie naby die opelug museum. Ek dink dis ’n deel van die Kılıçlar vallei. Ou
Archie is nog besig met sy bedrus sodat hy môre gereed en reg kan wees vir ons
toer.
Ek stap vrou-alleen in die eienaardige
spitsvondige landskap met die amper bonatuurlike rotsformasies wat oud, trots
en regop in die vallei staan. Dit lyk soos ’n ander wêreld, asof dit nie op ons
aarde hoort nie, maar eerder op die maan of ’n onbekende planeet.
Vreemde vallei |
Spitsvondig |
Die meeste van die rotse is eintlik wonings en ook kerke. Mense het vir baie lank in hul grotwonings gewoon. Vensters, deure en kamers is in die rots uitgekap en omvorm tot huise. Dit is fassinerend en amper ongelooflik.
Wonings |
Uitsig |
Die meeste mense besoek die deel met perde, ATV’s en selfs motors. Dis net ek wat stap, so met moer toe knieë en my stapstok. Ek geniet die laatmiddag baie. Die sonlig gooi sy welkome ligstrale op Göreme en gaan rus op die rotse en valleie.
Ruiters |
Ek bekyk en bewonder en beleef dit wat aan my gebied word en wonder wat mens doen as jy nie meer kan stap nie. Ek sit vir ’n ruk in die stilte en kyk net. Dis so ontsaglik mooi. Wat ’n voorreg om dit te beleef.
Spitse |
Rotsformasies |
Dit word laat en ek stap terug na die werklikheid.