23 Mei 2015.
 |
Datça tot Kuruca Bükü |
Ons vertrek 8:00 uit Datça en vaar verby ’n ligtoring wat jou
waarsku teen die rotse in die see. Hier in die Aegean See kruip die rotse mos
in die middel van die see net onder die watervlak weg sodat ’n onskuldige
seiljag haar kiel daarteen kan stamp. So, ons is altyd op die uitkyk na waarskuwingstekens
in die see, bestudeer die kaart en lees die boek.
 |
Ligtoring op Uzunca Eiland |
 |
Berge |
 |
Kormorante |
Kuruca Bükü, 36°45.352
N, 27°53.748 O, 13 myl, waarheen ons vandag op pad is, is ’n groot baai in die
Hisarönü Körfezi. Ons soek ankerplek,
maar ons kry niks wat in ons smaak val nie. Dan is dit te diep, dan is die vlak
kant te naby. As die diepte reg is, sien ek net seegras. Ons vaar na die ander
kant van die baai, kry ’n lekker sandkol en gooi daai anker. En siedaar! Ons is
stewig geanker. Dit is warm hier in Turkye en ons swem gereeld om af te koel.
My suster, Elize, sou die swemmery vreeslik geniet het.
 |
Kuruca Bükü |
Kuruca is ’n vakansiedorp
wat baie gewild onder senior burgers is. Blykbaar was daar in die begin van
1970’s sewe ou en afgeleefde donkies daar losgelaat. Toe die konstruksiespan twee jaar later kom om die vakansiedorp te bou, vind hulle sowaar 28 donkies. Sowat van
vrugbaarheid! Wat Kuruca kan doen vir die vrugbaarheid van 'n donkie ... Die oumense wat hier kom bly, moet oppas!
Die baai verander
laatmiddag in ’n bad soutwater. Daar is beswaarlik ’n rimpel. Al die seiljagte,
agt van ons, staan sierlik stil, snoete almal dieselfde rigting. Dis hoe ek van
die baaie hou, spieëlglad.
 |
Spieëlglad |
Ek kook vandag groot.
Dan hou daardie kos vir vyf tot ses dae, hang af hoe honger ons is. Op die spyskaart
is lamskerrie met murgpampoentjies en die ander helfde van die lam word ’n groenboontjiebredie.
My mond water en Archie steel kos uit die pot.
 |
Lamskerrie |
Toe die son dit waag
om te sak, val ons weg aan die lamskerrie! En is dit lekker!