31 Augustus 2017. Donderdag.
 |
Marathia Baai tot Kalamos |
Anker op en weg is ons. Vandag is dit Kalamos, 10
myl. Dis heerlik windstil en ons seil glad niks. Ons sit en redekawel oor of
ons moet anker of kaai toe gaan. Ons albei besluit dat ons liewers wil anker.
Hier is lewe op hierdie waters van die Ioniese
See. Dis net seiljagte oral waar jy kyk. Sommige van die charter bote se
bemanning probeer seil in die ligste briesie. Dis nou wat ek noem, hardop vir
seil. Nee wat, ek is heel tevrede om te prrr.
Naby Kalamos is daar omtrent bedrywigheid. Die
charter bote kom een na die ander uit die hawe uitgevaar. Ons gooi anker in die
baai. Toe Archie gaan kyk of die anker gebyt het, sien hy dat dit pragtig gebyt
het, maar ontdek ’n rots onder die water wat in Maja se swaai sirkel is. Die
blerrie rots is 1.5m onder die water en ons kiel is 1.65m diep.
 |
Op pad |
 |
Kalamos |
 |
Hoofland berge |
Ons trek toe maar anker op en gaan kaai toe.
Archie kry ’n plek en tru en ek gooi die anker. Die buurvrou is gereed om die
toue te vang en vas te maak en siedaar! Ons is vas. Die hawe is nog taamlik
leeg en ons maak ons tuis in Kalamos.
Toe begin die jagte in te kom. Die een na die ander.
Ou George, wat die onoffisiële hawemeester is, help almal in. Hy is ook die
eienaar van die taverna in die dorp. Hy laat die jagte buite die hawe wag en
laat hulle dan een vir een inkom. Sowat van effektiwiteit het ek lanklaas
beleef. Hy stoot hulle in die regte rigting met sy dinghie, hy sê presies waar
hulle die anker moet neersit en dan jaag hy kaai toe, klim uit en help hulle
met die toue.
 |
George aan die werk |
Hy werk onverpoos voort. So maak hy seker dat 51
jagte veilig in al wat obskure plek moontlik vas is. Ten minste drie charter
boot maatskappye se flotillas (’n groep bote wat saam seil) is hier vasgemeer.
Dan ook ander huurbote en ook ons privaat outjies. Dit verskaf kykgenot soos
min. Ons en die Duitsers langs ons, geniet die skouspel terdeë. Soms is dit
amper soos ’n riller.
 |
Kalamos hawe |
 |
Waar is Maja? |
Ons stap in Kalamos rond en daar is nie veel te
sien nie. Hierdie dorp se lewensaar is George en sy taverna en die seilers wat
hierheen kom. Hy is seker ook die burgemeester (as die Grieke so iets het).
Ons geniet die vriendelike plek met al die seilers verskriklik baie. Almal is
vriendelik en ontspanne, sodra die adrenalien van die vasmeer eers uit die lywe
uitgesypel het.
 |
Mooi nooi op mooi trappe |
 |
Kontras |
 |
Romanties |
Ons gaan stap die aand weer en sien dat al wat
leef en beef by George se taverna eet. Sommige omdat hulle baie honger is en
ander uit dankbaarheid oor George hulle so mooi gehelp het.
Terloops, ons het nie van George se hulp gebruik
gemaak nie. Ons was te vroeg daar en het maar op eie stoom ingekom. So, ons eet
maar vark wat ek self gaarmaak op Maja en drink "gin and tonics" uit die wynglase wat Till en Andree vir ons gegee het. Cheers julle.
 |
Op Till en Andree |