8
Mei 2018. Dinsdag.
 |
Spartakhori tot Port Leone |
Ag, maar ons het lekker op Spartakhori gekuier. Maar dis tyd
om te gaan. Ons Suid-Afrikaanse bure, Brendan en Chantal kom groet en ons maak
gereed om te vertrek.
Elkeen het sy taak. Archie is agter die helm, Sullivan moet
afstoot en ek laat die snoet tou sak. Ons bure aan albei kante is baie naby
ons, maar daar is geen probleem nie. Ons vaar uit en die wapad is weereens ons
woning.
Ons gaan vandag na Port Leone op Kalamos Eiland, 16.4 myl.
Archie oorhandig die helm aan Sullivan en hy hou ons op koers.
Aan ons linkerkant is die hoë hoofland berge met die dorpie
Mitika en sy huise wat amper met hulle voete in die see staan. Amper soos Venesië.
 |
Mitika |
Ons vaar om die hoek en Kalamos is aan ons regterkant.
Net 'n entjie verder is Port Leone, waar ons gaan anker. Daar staan reeds drie
bote op anker, maar daar is darem plek vir ons ook. Die anker val en ons
het 'n huis vir die aand. Dit lyk of dit 'n lekker swemplek vir die flotillas
van "Sailing Holidays" is, want hulle stroom in. Hulle swem dan net
en vertrek. Daar kom hoeka 'n boot te na aan ons anker vir sy middagswem.
Sullivan kry iets vir die dors en daarna roei die twee
makkers land toe om 'n stap paadjie te soek. Dis toe ook terwyl die makkers op die land is, dat die
konsternasie begin. Die bure wil anker optrek en hulle kom te na aan Maja. Ek
is vrou-alleen op die boot.
 |
"Cold beverages" in Port Leone |
 |
Makkers roei land toe |
Hulle kom al nader met die optrek en ek sê vir hulle dis te
naby! Toe eers skakel hy sy enjin aan en probeer bietjie wegkom. Ek moet
inderhaas fenders uitsit en hulle druk hulle fender in. Hulle boot skuur
verby Maja. Ek gee toe ook vir hulle "a piece of my mind"! Hulle kyk
my grootoog aan en toe ek hard en duidelik vir hulle sê dat hulle my anker beet
het, kyk hulle my met groter oë aan. Ek sien hoe my ankerketting ruk!
Intussen, op die land, staan die twee makkers die spektakel
en gade slaan. Hulle sien hoe kom hulle nader aan Maja. En hoe ek bontstaan met
die fenders en afstoot. Op 'n stadium het Archie toe vir Sullivan gesê hulle
moet dadelik Maja toe roei.
Terug op Maja het die ander boot Maja se ketting beet en hulle
vaar vorentoe met Maja agterna. Maar toe skree ek behoorlik op hulle. Toe
probeer hulle Maja se ankerketting van hulle anker bevry (wat hulle wel regkry)
en toe hulle anker opgetrek is, bots hulle snoet amper met ons s'n. Ek en die
vreemde Engelsman het omtrent met mening afgestoot en hulle anker skuur toe
rakelings by ons boot verby. Gelukkig het ek ook die groot balfender daar.
Hulle vaar stert tussen die bene weg en die twee makkers kom
aan boord. Hulle moes my lawe en Sullivan gooi vir ons elkeen 'n klein bietjie
wyn in, net om my geluk te wens met my knap hantering van die situasie. Ek was
so besig om vir Maja te probeer red, ek kon nie eers 'n foto neem nie!
Ons klim later in Dinkie en die twee makkers roei land toe.
Ek sit agter soos “Queen Victoria”. Ons klim uit en stap na Port Leone. Die
klein plekkie is in die 1953 aardbewing vernietig en die mense het besluit om
eerder te emigreer as om die plekkie te herbou. Daar wel nog elektrisiteit in
die plekkie.
 |
Port Leone dorpie |
 |
Aan land |
 |
Aardbewing skade |
Daar word vertel dat drie of vier kerkgangers elke Sondag na
die kerk in Port Leone kom, die plek skoonmaak en dan bietjie bid. Dan gaan
hulle weer huis toe.
 |
Kerkie |
Pragtige olyfbome groei hier en die twee makkers ondersoek ’n
geroeste ou karretjie. Dit laat hulle seker dink aan vanmelewe se ryding. Ons
sien mooi uitsigte van daar en daar is ook twee ou kaaie waar bootjies kan
vasmeer. Ons stap terug en Maja poseer sierlik vir ons in die baai. Ons is die
enigste jag vanaand in die baai.
 |
Ou karretjie |
 |
Ou olyfboom |
 |
Uitsig |
 |
Op die kaai |
 |
Sullivan en ek |
 |
Maja alleen in die baai |
Ons eet varknek, kapokaartappels en groente. Heerlik.
 |
Aandete |