Wednesday, May 30, 2018

Porto Kayio. Tweede vinger.

29 Mei 2018. Dinsdag.

Karovastasi tot Porto Kayio

‘n Nuwe dag breek aan. Party van ons in die dorp het beter as ander geslaap. Ons trek die anker gelukkig sonder voorval op. Dankie tog daarvoor.

Vandag vaar ons om die middelvinger van die Peloponnisos. Dis die tweede suidste punt van die Europese vasteland. Dis net 'n stuk van Gibraltar wat suider is.

Die weervoorspelling sê alles is piekfyn en ons voel gerus. Hierdie see in die deel van die wêreld is diep en kan rof raak. So, Porto Kayio, 26.6 myl, hier kom ons!.

Ons seil net vir 25 minute. Gus is maar 'n sug. Ek kla nie, nee ek is baie dankbaar. Die reuse klip, Capo Grosso, met 250 m hoog kranse staan grotesk en amper lomp in die see. Later is ons om die punt. Ak. Tainaron word versier met 'n pragtige groot ligtoring. Ons vaar met eerbied verby. Die tweede vinger van die Peloponnisos lê agter ons.

Capo Grosso
Ligtoring by Ak. Tainaron

Ons gooi anker in die baai. Kort daarna kom al die jagte wat saam met ons by Limeni was, een vir een in en gooi anker. Die Finne is vroeg vandag, want ons het hulle genooi vir aandete.

Porto Kayio
Neo-Maniote styl huise

Gus waai maar hier en niemand verlaat hulle jagte om aan land te gaan nie. 18:30 daag Sakari en Riitta op en ons het 'n heerlike aand van kuier, lag, gesels en boontjiebredie met sappige Griekse lam.

Lamsbredie
Kippis

Karavostasi, O. Limeni. Waterkaskenades.

28 Mei 2018. Maandag.

Koroni tot Karavostasi

Met Koroni wat in Archie se hart gekruip het en die mooi kasteel wat die herinneringe vanmelewe lewendig hou, vertrek ons na Limeni, 22.4  myl. Dis sommer reguit oor die see. Geen afdraai, geen kronkelpad. Net reguit. Vorentoe altyd vorentoe.

Ek voel dolfyne aan en my oë staar stip oor die water. En sowaar, daar is hulle. Sommer 'n stuk of twintig. Dis van daai tipe wat baldadig uit die see spring en sierlik terug plons. Hulle speel met Maja. Haar pens lyk seker vir hulle soos 'n groot vriendelike moeder dolfyn.

Hulle is onderdeur, dan swem hulle langs Maja. Duik diep af ondertoe. Alles word met 'n tergende spoed gedoen. Foto's neem is nie maklik nie. Hulle laggende gesigte is pragtig. Ek hoor ook duidelik hoe hulle roep.

Dolfyne
Neusgat

So swem hulle lank saam met ons totdat hulle later hulle die onbekende dieptes gaan opsoek.

Van dieptes gepraat! Vandag vaar ons in 'n stuk see wat 1 150 m diep is. So, vandag gaan Michelle en Johan se diepsee-spring rekord spat.

Ons kry die plek wat Archie op die kaart gemerk het. Ons stop en maak gereed. Die blou is diep. Dit voel of Neptunus sy reuse waterslange stuur en ons wil saamneem na sy tuiste in die donker dieptes.

Archie, ek bedoel Adam, spring eerste. Hy trek deur die lug, arms wyd verspreid. Sy lenige lyf tref die water en hy verdwyn in die dieptes. Hy kurkprop uit die water uit en die rekord is gebreek. Geluk kaptein!

Adam

Nou is dit my beurt. Ek spring minder sierlik. Eintlik sê Archie ek plons net in. Maar die diepsee-spring rekord word geëwenaar. Geluk eerste offisier! Michelle en Elize, nou sal julle moet uithaal om die rekord te breek!

Plons in die diepte

Ek sien 'n waterskilpad wat lui-lui swem na êrens. Ek sit nog so agter die helm en hoor 'n klapgeluid en Maja se enjin tril. Archie, as hooflid van Redding Internasionaal, kry die snorkel en die vabond is 'n tou in die propeller. 

Die vabond

Ai, sowat van waterkaskenades het ons lanklaas beleef. Limeni lê voor ons en ons vaar na die breekwater. Die boek sê jy moet hier alongside, maar daar staan reeds 'n ander jag wat op die gewone Griekse manier vasgemaak is. 

Ons is toe glad nie gereed vir die anker vasmaak nie en kry alles inderhaas gereed. Die man wys waar ons moet anker gooi. Daar is oral boeie en bootjies in die water vasgemaak. Die man sê ons moet gooi. So gooi ek toe tussen die boeie en bootjies anker en hoop vir die beste.

Vas is ons. Archie gaan stel ondersoek in en sê die bodem lyk soos 'n spinnerak van toue en ysters. Maar ons anker is veilig. Later trek die Franse aan die eenkant van ons in en die Italianers aan die ander kant in. 

Limeni Baai
Karavostasi Kaai

Baie later, 20:30, kom die Finne daar aan. Die gawe visserman besef daar is geen heenkome vir die Finne nie en verlaat die kaai om die plek aan die Finne af te staan. Met lazy line en al. Hulle hoef nie eers in die tou-moeras anker te gooi nie! Ek en Archie help hulle vasmeer.  Almal is vas en veilig, totdat Gus begin waai. Hy waai teen die anker en die boek sê dis nie goeie houkrag nie. Die Franse en Italianers is op in die nag om hul ankers dop te hou. Die kaptein slaap natuurlik soos 'n flippen baba en ek lê groot-oog in die bed.