2 Junie 2017. Vrydag.
![]() |
Datça tot Knidos |
Ons is weer alleen. Chrismari het 9:00 die bus
geklim na Marmaris om haar pad huis toe te vind. Sy het toe nooit vir ons laat
weet waarvan sy die meeste gehou het nie. So dit sal maar ’n geheim bly totdat
dit dalk later openbaar word.
Vandag vat ons weer die bekende pad na die antieke
stad van Knidos, 20 myl. Ons was al vier keer daar op anker. Ons ken die plek.
Die pad is doodgewoon. Turkse berge gly verby, nie mooi nie, nie lelik nie.
Sommer net berge. En see en water en wolke. Alles ongewoon doodgewoon.
“The road is long" en die kaptein sit en bekyk sy GPS.
Ek weet nie eintlik wat sien hy daarop wat hom so fassineer nie.
Kaptein en sy GPS |
En ek sit maar net en oordink dinge. Diep dinge. Uitpluis dinge wat ek nie verstaan nie. Van mense en hul dinge.
Knidos kom uiteindelik nader en ons gooi daai anker
dat hy byt. Die baai word voller en voller. Een vir een kom die seiljagte grasieus
ingevaar, soek ’n geskikte tuiste en gooi anker. Ons bring die hele middag op
Maja deur. Ons rus en lees boek. Die ou stad lê bekend in die son en bak. Ons
gaan nie vandag weer geld betaal om dit te besoek nie.
Ons is nou behoorlik lui. Ons enigste aktiwiteit vandag op anker is om die seemeeus te voer met ou brood. En selfs dít put ons uit!
Meeu |
Die dag verander in aand en Gus waai liggies.