Sunday, August 11, 2019

Pierre en Annatjie. Tot siens.

10 Augustus 2019. Saterdag.
En so kom Pierre en Annatjie se vakansie op Limnos tot 'n einde. Vandag klim hulle die veerboot na Lesvos en daarna begin hulle Turkse vakansie. Hulle staan sak en pak vir oulaas voor die té kleine Maja.

Sak en pak
Ons stap saam met hulle na die nuwe hawe, waar hulle die veerboot gaan kry. Later gaan ons na ons kant van die hawe en waai vir hulle. Toe is hulle weg. Op pad na nuwe horisonne. Nuwe ervarings. 
Koebaai
Daar gaan hulle

Pierre en Annatjie

Pierre hou van koffie drink. Voor ete, na ete, in die nag en ook in die dag. Enige tyd is koffie tyd. Maja is bietjies te klein en warm vir hom. Maar hy het darem Maja se passarelle baie sorgsaam opgetel en laat sak.

Vir Pierre was die beste plek sonder twyfel Limnos. Pragtige interessante eiland met vriendelike mense, mooi strate en ou geboue. Die Kastro het ook 'n groot indruk op hom gemaak. (Hy het iets oor die kasteel geskryf wat ons nie kan ontsyfer nie. Skryf te lelik.) Maar hy vind die geskiedenis van die kasteel baie interessant.
Kastro
Die ervaring wat hy baie geniet het, was die kruising van Porto Koufo tot Limnos, onder vol seile en met boonop 'n nuwe rekort seilspoed van 7.6 knope.
Lang kruising
Annatjie hou ook baie van koffie drink en saam met Pierre het hulle die konsep van koffie drink tot nuwe hoogtes gevat. 

Annatjie het ook die meeste van Limnos gehou. Vir haar was dit heerlik en baie pragtig. Annatjie het die lang staptogte baie geniet. Dit was ook baie leersaam.
Limnos
Die beste ervaring was ook die 55.4 myl kruising tussen Porto Koufo tot by Limnos. Sy het nie gedink sy sal so iets oorleef nie.
Sy het die kuier saam met ons en ook die kos op Maja geniet.
Seile
Baie dankie dat julle saam met ons op die kleine Maja kom kuier het. Dis jammer dat ons nie by die toerprogram kon bly nie, maar Gus het ander planne gehad. Die lekkerste deel van julle vakansie kom nou eers. Geniet julle toer in die pragtige Turkye.

Limnos Eiland. Die laaste avondmaal.

9 Augustus 2019. Vrydag.

Ai, ons skuil nog steeds in die windstil Myrina. Dis eienaardig om teen die wind te skuil as daar by jou geen wind waai nie. Toe gaan stap ons vier maar na die wit kerkie op die bult.
 
St Nicolas Kerk
 
Die kerkie is eintlik mooi van vêr af, maar vêr van mooi af. Sommer maar net 'n wit  kerkie op 'n bergie op 'n verre eiland in Griekeland. 'n Seilboot vaar in die verte. Hierheen, vir skuiling teen die nóg sterker winde wat gaan kom.
 
Archie
Seilboot
 
Die aand neem Pierre en Annatjie ons uit vir die dankie-sê ete. Hulle het eintlik maar min om voor dankie te sê, want ons is nou al 'n week hier by Myrina. Gewoonlik neem ons ons gaste na plekke waar hulle 'n breë spektrum van Griekeland kan beleef, maar Gus het ander planne met ons gehad. Hy het ons vasgevang in sy waainet en gevange gehou. Gelukkig in die pragtige Myrina, op Limnos Eiland.

Ons is almal uitgevat en stap na die taverna waar Pierre en Annatjie vir ons 'n tafel bespreek het. Die restaurant kyk uit op die see. Ons sien die kasteel wat verlig in die agtergrond staan. 
 
Pierre en Annatjie
Archie en ek
Ons vier
 
Ek bestel geroosterde calamari en die ander drie lam souvlakia. Ons eet heerlik. Daarna gaan eet ons nagereg by 'n ander plek. Sjokolade soufflé, lemoenkoek en 'n amandelkoek. Alles word bedien met 'n skep roomys. Kuppeldik van koningskos! "Baie dankie Pierre en Annatjie. Dit was heerlik!" 
 
Calamari
Souvlakia
Beligte kasteel