Die bote in Dubrovnik Marina is baie naby mekaar vasgemeer en ons bure help dat die fenders nie aan mekaar vashaak nie. Ons verlaat die Marina stylvol sonder skandes. Ons wuif vir die behulpsame bure en roep ons koebaais.
Die see bestaan uit duisende deinings. Dis soos berge en dale. Nie dreigend nie, net deinings. Dis die Sahara-wind wat die see so omgeroer het. Wat die water so geklits het dat dit nou nog reuse dimpels maak.
Ons is oppad na Cavtat (42º 35.121N, 18º 13.273 E). Dis 13.6 myl (25 km). Dit is 'n amptelike doeane waar ons uit Kroasië moet uitteken, want ons gaan Montenegro toe.
Die ligte wind is van voor en ons seil nie, ons motor heelpad. Ons vaar verby Dubrovnik se mure. Dit lyk anders vanuit die seilhoek. Ek neem foto's, maar party is so skeef, want die boot is dan op en dan af. Dan heen en dan weer. Sag wiegend op die duisende deinings.
Ons kom by Cavtat aan en anker. Ons vriende van Swede is ook hier geanker. (Ons is nie huisvriende nie, maar hulle was naby ons vasgemeer by Dubrovnik). Die see word glad en plat en ons vat vir Dinkie en gaan dorp toe. Archie sê ons moet die spane saamvat, net "vir ingeval". Ek wonder "vir ingeval" wat! Ons soek die hawemeester se kantoor met die hoop dat ons kan uitteken sonder Maja. Maar tervergeefs.
Uvala Tiha ankerplek by Cavtat |
Ons verken die dorpie, eet roomys en gaan later terug na Dinkie. Ek klim in, Archie stoot ons in die water, spring in en trek die tou wat die motor aan die gang kry. Niks. Hy trek weer. Niks. Dinkie wil nie vat nie. Die petroltenk is leeg!! "Vir ingeval" wat? Nou weet ek. Ons roei terug na Maja.
Die laatmiddag son verhelder die kleur van Cavtat en Maja staan trots daarteen afgeëts. Ek sien hoe die mense by die kaai en strand foto's neem. Sy is so fotogenies. Ons is verewig in die vreemdes se foto's.
Ons gaan miskien nie môre vaar nie, want daar is moontlik weer sterk winde.
Die son trek water |
"The lookout" |
Sonsondergang |
Ons gaan miskien nie môre vaar nie, want daar is moontlik weer sterk winde.