2 September 2016. Vrydag.
Dis weer sukke tyd. Ons moet vandag
uit Turkye uit want ons 30 dae visum is verstreke. Jy klok uit en hulle stempel jou
paspoort. Dan moet jy ’n stempel van ’n ander land kry, in ons geval
Griekeland. As jy dan weer terugkom in Turkye, is jy weer wettig vir nog 30
dae. Raar maar waar!
Die probleem is ons nog nie
veerbootkaartjies het nie en ons “shuttle” boot vertrek eers 9:15 van Nuri's af en die veerboot
vertrek 10:00. En ons moet nog ons paspoorte laat stempel. Gaan ons dit maak?
Ons kom 9:30 in Kaş aan en vra waar
kry ons kaartjies. Die Turk by die hawepolisie verstaan g’n niks. Ek vra ’n man wat Engels
lyk waar kry hulle kaartjies. Hy sê hulle hotel het alles gereël, maar hy weet
mens moet die vorige dag jou kaartjies koop of bespreek en voor 9:00 jou
paspoort ingee vir die stempel.
Wat nou gemaak!? Ons moet vandag
gaan. Môre is ons onwettig, dan kry jy ’n hengse boete. Twee ander mense, ’n Amerikaanse
meisie met ’n Turkse kêrel, help ons. Gelukkig kom die agent daar aan en die
Turkse kêrel verduidelik ons penarie. Die agent is dadelik op sy selfoon en ’n minuut
daarna kom ’n ander Turk op ’n motorfiets daar aangejaag en gryp ons paspoorte
en daar trek hy.
Die agent sê vir Archie: ”You must
pay me.” Archie betaal die €50. Ons het geen kaartjies as bewys ons het betaal nie. Nou
is dit al 9:55. Gaan ons dit maak. Die ander veerboot na Kastellorizon se passasiers word
geroep en hulle vertrek. Nou is dit ons veerboot se beurt. Die hawepolisieman staan met 'n pak paspoorte in sy hand en die name van die
passasiers word een vir een gelees dan mag hulle aan boord stap. En jou waarlik, die twee
laaste paspoorte is bekend groen en dit is ons. Ons het dit sowaar gemaak. Wat ’n
verligting!
En Kastellorizon? Dis so tuis
Grieks! O en ek lief Griekeland. Dadelik is daai “vibe” daar. Dis ’n ander wêreld.
Kastellorizon |
Op die kaai |
Dis ’n baie klein eiland. Dit is ook die vêrste oostelikste punt van Griekeland en van Europa. Dis 'n barre rotsklont net ’n paar myl van Turkye af. Hier woon net 300 permanente inwoners.
Barre rotsklont |
Gedurende die Tweede Wêreldoorlog was die eiland onder Britse beheer. In 1944, net voordat die Britte die eiland verlaat het, het ’n brandstof en ammunisie depot ontplof en die helfde van die dorp is vernietig. Van die inwoners se besittings is gesteel.
Toe die mense na die oorlog
teruggekeer het na die eiland, het hulle gevind dat hul huise vernietig is en
hul besittings gesteel is. Die meeste inwoners het ge-emigreer na Australië en
VSA.
Wel, die deel van ou Kastellorizon
wat staande gebly het, is pragtig. Dit laat my aan Symi dink. Tavernas is oral
en Griekse musiek speel. Dis net die eerste keer dat ek ’n kerk sien wat
heeltemal verlate en verstote daar staan. My hart breek. Ek is mos ’n kerkmens!
Dolfyn standbeeld |
Kastellorizon huise met Turkye in agtergrond |
Verlate kerk |
Blik oor hawe |
Dwergbankie |
Ons stap na ’n kerkie wat so amper
in die water is. Al probleem is dat dit nie meer ’n kerkie is nie, maar iemand
se kunsateljee. Toe ek ewe onwetend daar instap, trek die man gou sy klere aan.
Kerk of ateljee? |
Daar is ’n ou kasteel hoog teen die heuwel en jy sien dan eers hoe mooi die baaie in die omgewing is.
Kasteel |
Uitsig oor Mandraki Baai vanaf kasteel |
Hawe |
Ons geniet ons gedwonge kuier in
Kastellorizon vreeslik baie. Terug by die veerboot vra niemand vir ’n veerbootkaartjie
nie. As jou naam op die lys is, gaan jy aan boord.
Op pad huis toe |
Vanaand moet ons by die restaurant gaan eet omdat ons by die kaai vasgemeer is. Die kos is baie beter as Boynüz Bükü se kos en helfte van die prys. Ons eet ’n "red snapper" met slaai. "Lekker, maar nie so lekker soos tuisgebak," sê Archie.