Tuesday, May 23, 2017

Rhodos.

22 Mei 2017. Maandag.

Vandag is die groot visum dag. Ons kry mos net ’n gratis Turkse visum vir 30 dae. Dan moet jy uit die land gaan en terugkom om ’n nuwe Turkse visum te kry, wat dan weer geldig is vir 30 dae. Ons kies gewoonlik ’n Griekse eiland wat naby Turkye is en vat dan die veerboot daarheen.

Vandag is dit Rhodos. In die reën klim ons die 9:15 veerboot en daar trek ons. Die see is rof en daar is ’n klomp mense wat seesiek raak. Ek kyk maar weg, voordat ek naar word. Dis is so ’n uur se vaar tot daar. Aan die oostekant van Rhodos is daar ’n donderstorm en aan die westekant skyn die son.

Welkom in Rhodos

Ons en al die toeriste van die kolossale skip, Thompson Dream, begin die stad plat te loop. Dit wemel en wriemel en krioel soos miere. Waar jy kyk, is ’n lyf. Veral ouer lywe, want dit lyk vir my of die ouer garde op die groot skip vaar. 

Woelige strate

Ons bewonder eers die Suleman Moskee. Die ronde dakke is altyd vir my mooi.  Ons loop na die kloktoring en het nog ’n mooier uitsig van die moskee, so tussen die bome deur. Die paleis is egter toe vir die dag, want daar is ’n “pease” konferensie. Al die toeriste draai teleurgesteld om as hulle die kennisgewing lees. Gelukkig was ek al vantevore daar.

Paleis
Suleman Moskee
Kloktoring

Vir my en Archie is dit natuurlik heerlik om in die Middeleeuse grag te loop. Die hoë mure troon bokant ons uit. Niemand sou die stad maklik bereik het nie. Oor hierdie mure sou hulle nie kom nie. Miskien die helde soos Superman, Batman, Spiderman! Ons betree die grag deur ‘n klein, donker tonnel naby die Hek van Johannes.

Donker gang
Loop in die grag
St Johannes Hek

Die Panagia tou Bourgou is ook bewonderenswaardig. Dis maar net ’n vreeslike naam vir ’n bouvallige kerk. Daar is nog ’n klomp ou goeters wat ek nie die name van ken nie. Maar Rhodos is vir my iets besonders.

Kerk

Ons stap hawe toe en die twee bokkies staan op kolomme waar die Kolosse van Rhodos in die verre verlede gestaan het. Die windmeulens staan roerloos in die wind. Vir draai is hulle nie lus nie.

Windmeulens
Bokkie

So gaan ’n dag in die besonderse toeriste dorp verby en skielik is dit weer tyd om huis toe te gaan. Ons klim die 17:00 veerboot en daar trek ons terug na Marmaris. Die keer is die see nie so rof nie en niemand word seesiek nie. Die Turkse stempel ons paspoorte en nou is ons weer wettig vir 30 dae.

Rhodos straat
Rhodos

Toe is dit die finale bed opmaak van Maja met die skoonste vars gewaste beddegoed en ons is reg vir Chrismari, ons gas van Suid-Afrika. Sy het in 1998 uit ons lewens gestap en vandag, vir die eerste keer in 17 jaar, sien ons haar weer. Ons vriend, Chris Joubert, verwys met reg na haar as die “verlore kind”.

Chrismari en Archie


En skielik is sy daar en al die verlore jare val weg en dis asof dit gister was wat ons haar gesien het. Welkom hier by ons op Maja.