![]() |
Mourtzeflos tot Aliki |
Die donker duisternis omhul die baai. Die slaap ontwyk my. Die deinings rol die baai binne. Dit voel soos op die oop see. Genadiglik lui die alarm 4:45 en Archie staan op. Ons moet net na 5:00 ons kruising na Thassos Eiland, Aliki Baai, 40.6 myl aandurf. Ek voel soos hond.
Ek gooi helfte van my koffie uit. Ek is naar. Archie sê ongenaakbaar dat ons moet vertrek. My kop draai. Ons vertrek.
Ons
tref die see en hy tref ons. Deinings rol lustig. Gus waai en ons vaar
vorentoe, maar ek wil agtertoe, terug na Myrina. Ek is naar en probeer
opgooi. Ek skiet twee piepklein katjies. O, die skande! Die Seilende
Sigeuner is seesiek! Vir die eerste keer in sewe jaar! Die geen slaap,
die gerol op anker, die benoudheid oor die onheilspellende wolk
duisternis het my seesiek gemaak. Archie hou voet by stuk, ons gaan
deurdruk.
Ek sien nie
kans vir 40 myl op 'n rowwe see nie. Die kaptein sê ek moet in Elize se
kamer gaan lê. Ek lê vir drie ure daar, toe voel ek baie beter en kan
selfs die helm vir die volgende uur beman. Die kaptein is toe al moeg
agter die stuur.
Ons vaar
(Archie het wel vir 'n rukkie gemotorseil) 7h33 min, toe is ons by
Aliki. Ons is noord. Ons het ons doel bereik. Ons gooi anker in die baai
vol vrolike sonbaaiers en see swemmers. Ek is nog tam en moeg en gaan
nêrens heen nie, nie eers die mooi stappad lok my nie. Ek lê net. Die
aand draai Gus weer en waai uit die suide en die deinings rol die baai
binne. Gelukkig nie naastenby so erg soos die vorige aand nie.
Aliki Strand |
Vrolike swemmers |
Ek
gaan slaap toe dit nog lig is. Die seesiekpil maak mens mos lomerig. Ek
slaap so vas, Archie maak die venster toe toe die reënbui in die nag
uitsak. Die "first mate" slaap soos 'n flippen baba!