![]() |
Trizonia tot Panormou Baai |
Ons vertrek van ons "along side" posisie. Die Hollander is oral, gee raad en bevele. Is hy dan ons kaptein? Ek luister net (gewoonlik na 'n bietjie teepraat) na my kaptein, Archie. Die Hollander én al sy travante kan gaan vlieg. Hulle laat my onbevoeg en onvergenoegd voel. En maak nog boonop die katwyf in my wakker.
Ek wil net seil en vaar en anker en sukkel en stres, saam met mense waarvoor ek lief is. Ek verlang na my familie.
Oggendskoot - Verlange |
Ons span die seile en Archie sê met genoegdoening: "Dis 'n goeie dag." Die seil wit in die lug, die water spliesh-splash verby Maja se snoet. Dit bring kalmte vir my siel. Dis net 10.5 myl na Panormou (38° 21.619N, 22° 14.696 O) waar ons gaan anker. Ons gooi anker en ek en Archie gaan aan land met Dinkie.
Ons stap langs die strand na hulle klein hawe, maar Maja sal nie hierin kan pas nie, heeltemal te klein.
Klein hawe |
Ons stap rond en kom op twee dames af met 'n ou Citroen. Dit het 'n sondak en sy gebruik dit hoofsaaklik om haar honde rond te ry. Daar is gelukkig geen honde in sig nie, en sy beduie ons kan inklim vir 'n foto. Sy neem 'n windskeef foto. Die een vrou is Vlaams en die ander een Belgies en ons praat Afrikaans.
Citroen en dames |
Windgat, maar windskeef |
Terug by Maja, is dit Dirk en Rika se beurt om die dorp en omgewing te verken en hulle klim oorgretig in Dinkie en daar trek hulle. Hulle stap heerlik rond en bring vir ons lemoene en suurlemoene saam wat 'n vriendelike Griekse weldoener vir hulle gegee het. Dirk eet die lemoen dat die sop spat. Dis heerlike, sappige lemoene.
Die wind bedaar saam met die aand wat daal. Ek voel lewensmoeg en Arch bietjie loopneuserig en hy gaan slaap 20:00, terwyl dit nog daglig is en ek 20:30 terwyl dit nog steeds daglig is. Elke aand se 23:30 se gaan slaap, raak te veel vir 'n pensioenaris en sy ou vroutjie.
Dirk en Rika geniet die Griekse seilvakansie vreeslik en koop die tyd uit. Hulle geniet die skemeraand op die dek.