15 Augustus 2013. Donderdag.
Bar tot Durrës |
Dit begin so. Ons verslaap. Die selfoon is gestel vir 03:00. Archie vra my hoe laat dit is. Ek kyk en sit penorent. Reeds 03:32! Archie spring op, gryp die papiere en sit af doeane toe om uit te klaar. Hy kom terug met die nuus dat hulle nie daar is nie.
Dit begin reën.
Ons gaan lê weer en 04:45 gaan Archie weer kyk. Hulle is daar en hy klaar uit. Dit reën nie meer nie. Ons vertrek 05:10 vanaf Bar na Durrës (41° 18.326 N , 19º 27.066 O). Dit is in Albanië, waar jy nie mag anker nie a.g.v. die moontlikhede van seemyne.
Ons kan effens sien en kyk met wydgesperde oë na al die ligte en bakens en kom maklik uit die Marina. Die wind waai heeltyd, maar darem nie te erg nie. Die deinings is groot, want Gus het heelnag loeiend gewaai. Maja durf die see dapper aan. Ek sing nog nie. Die wolke lê laag en dik oor land en see. Ek lê op die vloer van die dek, totdat die wolk 'n druppel op my laat neerplons. Ag nee, dit reën. Ek kry die reënbaadjies en panser ons teen die nat.
Dit reën nie meer nie. Gus begin met nuwe ywer waai. Soos wat hy harder blaas, word die see groter. En ek begin maar sing. Ons span die hoofseil, want die wind is half van agter en ons motorseil. Dis as die seil op is en die motor prrrr. Archie laat die motor stadiger loop (om diesel te spaar) en ons spoed verhoog tot 5.5 knope met die seil. Die seil help dat Maja nie so vreeslik kantel nie. Ons seil 'n ruk, totdat Gus plukkerig raak en trek die seile in. Dit begin reën. Ek sing nog steeds, maar ek is baie kalm.
Gus hou nie op nie. Ons vaar volgens die kompas en ons sien net see rondom ons. Dit is "scary". Ek hou daarvan om land te sien. Maja pak die deinings een vir een aan. Archie sit by die helm. En ek sing, maar bang is weg en dapper is hier.
Na 'n ewigheid kan ons die land sien waarop Durrës is. En na nog 'n ewigheid sien ons vir Durrës. Ek is moeg van sing. Dis gevaarlike terrein, met skeepswrakke en rotsriwwe en vlak plekke. Die see se deinings is groot en Gus waai sy hart uit. Die deinings kom nou uit 'n ander rigting. Ons sukkel om die bakens wat die hawe-ingang aanwys te sien, want die sig is swak.
Durrës se vlak water |
Uiteindelik Durrës! |
Reuse sagte deinings spoel onder deur Maja. Uiteindelik sien ons die bakens en vaar na die ingang van die hawe. Die einde is in sig. Gus waai en waai.
Archie roep die hawemeester op die radio en hy gee ons toestemming om in die hawe te kom. In Albanië moet jy 'n agent hê om by doeane in te klaar en die agent wat Arch gereël het, wuif op die kaai. Ons stop "alongside" in die sterk wind. Gelukkig help die agent met die toue.
Al ons papiere is reeds ingevul, want Archie het al die inligting vir die agent ge-epos. Die agent sê ons moet ontspan na so 'n moeilike dag op see. Vandag was 'n lang dag. Ons het 57 myl gevaar. Ons was vir twaalf ure op 'n uiters onaangename see. Maar ons het oorleef.
Ek sal liewers 'n blog skryf wat almal laat gaap van verveling. En met hulle koppe op hul rekenaars aan die slaap raak, as om ondervindings soos vandag s'n te skryf.
Ek is nou moeg. Ek wil net slaap...
Published with Blogger-droid v2.0.10