12 Julie 2015. Sondag.
My familie by die huis het vandag
’n varkie en ’n ystervark op die spit. Ek kan net dink hoe lekker gaan hulle
kuier!
Ek en Archie gaan vandag die twee
chorios besoek. ’n Chorio is klein dorpie bo-op ’n berg. Dis 9:00 en klaar
warm. Gestewel en gespoor vat ons die pad. Ons stap op en op en op. En was ek
vekeerd oor die eiland. Die landskappe maak voor ons oop. Daar is bome en
blomme. Skoenlappers fladder rond. Dis vir my mooi.
 |
Op pad na Mikro Chorio |
Dis ’n heerlike stap tot by Mikro
Chorio. Dit is ’n gehug, ’n klein dorpie. Dit is heeltemal verlate. Van die
geboue is niks meer as bouvalle nie. Dis heerlik om in die klein stegies en
straatjies rond te dwaal. In die 15de eeu was Mikro Chorio die middelpunt van
die eiland, maar na die Tweede Wêreldoorlog het almal die dorp verlaat. Ek weet
nie eintlik hoekom nie. Sal oplees. Nou is dit net ’n herinnering van die
glorieryke verlede. Die gehuggie lyk verlore en is verlate.
 |
Mikro Chorio |
 |
Maalklip |
 |
Klein kerkie van buite ... |
 |
... en van binne |
 |
Groot kerk |
 |
Venster en pot |
Ons besluit om na die Megalo
Chorio, die groot dorp toe te stap. Dis vêr, so 5 km. Ons voel sterk genoeg en
daar trek ons. Dis warm, dis baie warm. Ons stap die eerste ruk op ’n
stapperspad en later op die teerpad. Eindelik kom ons daar aan.
 |
Stapperspad |
 |
Megalo Chorio in die vêrte |
Ons stop by ’n
restaurant en bestel bier en koeldrank. Dis heerlik koud en les ons dors.Ons
het krag nodig om die plek te verken. Ons bekyk die spyskaart en besluit op
baba bok met suurlemoensous. Dit was heerlik.
 |
Baba bok |
Toe pak ons die Megalo Chorio
aan. Dit is geleë op die heuwel van Agios Stephanos. Op die top van die heuwel
is die antieke kasteel van die ridders van die orde van Saint John. Tot die
begin van die 18 de eeu het die hele bevolking van Tilos binne die mure van
Megalo Chorio gebly.
Dis pragtig. Amper soos ’n klein
Mykanos, amper mooier. Ons loop tussen die wit. Verby die een kerk met klippies
in die binneplein en die blou deure en vensters. Ag, maar dis mooi. Ons stap
weer op op op, boontoe na die volgende kerk. Daar onder lê die Aegean See met
sy perdjies. Weer die wit kerk met die klippies. Ons kan nog lank in die plek
ronddwaal, maar ons moet haas na die bus wat ons ook net-net haal.
 |
Smal stegie |
 |
Kerk op die heuwel |
 |
Spoelklippies plaveisel |
 |
Trappe |
Ek trek my woorde terug. Tilos is
’n juweel. Wat ’n heerlike plek om te skuil teen Gus. Ons gaan môre nog hier bly om seker te maak dat Gus homself uitwoed.