23 Junie 2017. Vrydag.
![]() |
Mytilini tot Tsonia |
En ons wag. Nog niks. Aruna van SA Sailing het
gesê sy sal die lisensie eerste ding Vrydagoggend pos. Van eerste ding weet ek
nie so mooi nie, want teen 13:00 kan ek dit nie meer verdra om so rond te sit
en te wag nie en sê vir Archie hy moet nou maar mooi broodjies by die
hawepolisie gaan bak dat ons net hier kan wegkom. Die lawaai van die verkeer
maak my mal! En hier is boonop nog mense wat baklei, vuiste en al. En dit skree
en neuse wat bloei. Ag nee man, ek is nie lus daarvoor nie.
En daar trek hy toe met rekenaar en al. Hy sal
verduidelik en al die dokumente én
die bewys van betaling vir die lisensie vir hulle wys. En hoop hulle verstaan.
Jy sal my nie glo nie, maar terwyl hy so verduidelik, kom daar ’n e-pos deur en
dis SA Sailing! Met die lisensie! En alles val in plek. Ons kry alles gereed en
vertrek 13:45 na Tsonia, 20.8 myl.
Ons
laat vir Mytilini en sy kasteel agter en vaar vorentoe. Altyd vorentoe. Gus
waai van vooraf, regop Maja se snoet. Die sagte water verander in deinings, met
so hier en daar ’n perdjie op die deining. Maar gelukkig kom Tsonia stadig maar
seker nader. Die water lyk maar rof in die baai en ons hoop vir die beste.
Barmpalias Eiland |
Aandskoot - Amper daar |
Gelukkig
toe ons die diepte op 10 m trek, is die see stil, alhoewel Gus nog waai. Hier
is nie ’n fetch nie. Ons gooi anker
in 7m water en maak seker die anker byt en vas is ons. Ons wag vir die windvlae
waarvan die boek praat, maar gelukkig is dit net ligte rukkies en plukkies.
Hoe
heerlik om in ’n rustige baai te sit sonder die verkeer wat so lawaai. Die aand
kom en ons sit op die dek. Archie hoor iets soos iemand wat asem uitblaas. Nee,
nie soos in die laaste asem uitblaas nie, eerder soos iemand wat snorkel. Hy
lig met sy flou flits, maar ons sien niks nie. (Ek dink ek gaan vir hom ’n sterk
flits vir Kersfees koop.) Ons hoor net die asemhaling. Die water lewe hier,
want die visse spring vreeslik baie. Die aand raak later doodstil. Geen wind.
Heerlike soel somersaand.