Ston tot Luka Polace (Groen lyn) |
Ons trek met grasie by Ston se kaai weg. Niks gaan verkeerd nie. Die wind waai en ons vaar tussen die bakens deur die nou kanaal. Kaptein sê : "Span die seile!" Fanie is oorgewillig en ons span dadelik. Ons seil totdat ons deur die volgende nou kanaal moet gaan.
Deur die nou kanaal |
Hulle geniet dit vreeslik dat Gus (die wind) so erg waai. Nie gevaarlik nie, net sterkerig. Ek het al vantevore gesê dat ek meer van 'n lê-wind as van 'n waai-wind hou.
Ons kom by die oper see en daar is meer golwings.
Kranse by oper see |
Gus is baie wispelturig, hy wissel tussen sterk en sterker. Heeltemal veilige seiltoestande, maar Maja lê te skeef na my smaak. Archie en Fanie is in hulle element met die gelêery. Elize weet nie eintlik wat aangaan nie, want sy skuil agter haar lap. Ek dink haar oë en Gus kom nie so goed klaar nie.
Elize en haar lap |
Ons seil lekker en maak goeie spoed. Die spoed raak te goed en na 'n ernstige aanmaning van my kant af, maak ons die seile kleiner ("reef").
Maja kan 'n seilspoed van tot sewe knope goed hanteer, daarna raak dit te veel om die een of ander tegniese rede wat ek nie verstaan nie. (Fanie ook nie, want hy wil net vinniger seil). Op 'n stadium seil ons teen agt knope. Dis die gevaar van 'n rukwind. Hy gaan lê en ruk dan onverwags op en ruk en pluk aan die seile. Dan moet jy hou wat jy het of Maja wil skuins lê.
Die omgewing om ons is baie mooi en daar is redelik baie seiljagte op die water.
Party span seile ... |
... party nie |
Ons trek die seile in, want die wind wil nie meer saamspeel nie. Lekker is nou ook nie meer lekker genoeg nie en ons motor verder tot by Luka Polace.
Die manne se lus vir seil is darem goed bevredig met vandag se seil. Hulle sug van tevredenheid en daar is genoegdoening op die gesigte.
Ons kry ankerplek op omtrent dieselfde plek as verlede keer toe ons hier was. Dis 'n mooi baai en baie bote staan hier geanker. Die water wink en ons gaan in. Ons swem lank en lekker.
Ons swem ... |
... tot ons bene jellie word |
Fanie gaan stap en ons gaan natuurlik dorp toe om 'n ou ietsie te koop. Al drie van ons is in Dinkie en ons meisies se broeke word papnat. Nou voel ons soos ou vrouens met nat broeke.
Die skemer daal en ons voel 'n kalmte na 'n baie woelige dag. Uitgeput, maar tevrede, tref ons koppe die kussings en ons seil droomland binne.