22 April 2015.
Ons vlieg redelik onstabiel met 'n kleinerige vliegtuig na Izmir, in
Turkye. Dis 'n kort vlug, net 45 min. Toe laai ons ons vreeslike pakaas in 'n
trollie en sit af stasie toe. Ons loop en loop, hysbak op en loop en loop. Dan
hysbak af en loop en loop. En loop. Tot by die stasie. Dis 'n bedrywige stasie
en die treine kom en gaan. Ek wonder in my enigheid of ons ooit gaan weet
watter trein om te klim. Ons wag vir die 16:04 trein. Saam met ons wag 'n hele
skare, want Selçuk is 'n gewilde bestemming. Dis waar Efese is.
So 16:00 staan die skare nader, almal wag op die perron. 16:05 kom die
trein en ons klim. En toe ek so kyk, sien ek al die roerlose lywe staan nog
steeds op die perron. Hulle het nie geklim nie! Dis net ses van ons wat geklim
het! Ek vra vir 'n Turkse tienerseun op die trein of dit die trein na Selçuk
is, en hy en sy vrinne bars uit van die lag en giggel toe soos tienermeisies.
Hy skud sy kop. Ons is op verkeerde trein! Die ander vier toeriste ook.
'n Turkse weldoener beveel aan dat ons op die volgende stasie afklim. Ons
klim af, snel na die uitgang, loop oor die treinspore en is net betyds om die
regte trein te vang. En onthou, ons bagasie weeg 'n ton. Dis koffie en
sjokolade en tools en seile en wat nog alles vir Maja. O ja, én 'n
kapteinskussing wat Brigida vir Archie vir kersfees gegee het! Die trein is
oorvol, amper soos 'n mini-bus taxi in Suid-Afrika. Hulle stop by elke stasie,
daar altyd plek vir nog een. Ons staan die hele rit, ingepak soos sardiens in
'n blik. Dit word 'n baie lang uur.
By Selçuk verlaat ons verlig die trein, sit ons bagasie op ons rugge en die
ander goed in die hand en stap na die plein waar die dolmus (mini-bus taxi) na Kuşadasi
wag. Dis nou net 'n kwessie van tyd, dan is ons by Maja! By Kuşadasi gekom,
neem ons 'n regte egte taxi na die Setur Marina.
En siedaar! Maja, in drywende lywe! Ons is terug!
En siedaar! Maja, in drywende lywe! Ons is terug!
Uiteindelik daar |
Langbeen sit met nuwe kussings |