Sunday, August 19, 2018

Gemiler.

18 Augustus 2018. Saterdag.

Baba Adası tot Gemiler

Die baba van Adası se wiegelied het amper opgehou in die nag. Wel, ons slaap soos babas en is vroeg op vir die 22.8 myl na Gemiler, een van Archie se gunsteling ankerplekke.

Die pad is lank en vol deinings. Gus waai bietjie en ons probeer motorseil, maar later gaan lê hy. Ons vaar toe maar net vorentoe, altyd vorentoe. Göcek is in die omgewing en baie bote en jagte vaar hier rond. 

Die pad voel of hy nie wil opraak nie. Maar eindelik vat ons die laaste draai na Gemiler en ons soek plek om anker te gooi met "line ashore". Ek is maar benoud, want in 2016 het ek mos 'n nare anker-ervaring hier gehad.

Ons maak reg. Archie tru, ek gooi die anker in 24 m diep water. Hy byt. Ek hardloop agtertoe, vat die helm en Achie duik om die tou land toe te swem. Alles gebeur seepglad, sonder voorval, sonder skouspel. En ons is vas in die pragtige Gemiler, aan die voet van die antieke dorp van St Nicholas.
Ons buurman
Ons swem in die pragtige water en later roei ons land toe om in St Nicholas se antieke heilogdom en nedersetting rond te dwaal. Ons bekyk die ruïnes en vir Ölü Deniz in die verte, met sy majestieuse berge.
Stap
Kerk (7de eeu)
"Corridor" (7de eeu)
Geraam in die gat
Tonnel
Uitsig oor Ölü Deniz
Uitsig oor Gemiler Baai
Uitsig

Baba bok

Ons geniet Gemiler en maak reg om die volgende dag die Sewe Kape aan te durf.

Baba Adası.

17 Augustus 2018. Vrydag.

Joya del Mar tot Baba Adası

Ons is vroeg uit die vere. Ons wil vroeg begin met die 25.5 myl pad na Baba Adası, nie een van my gunsteling plekke nie. Dis een van daai ankerplekke waar jy kan maak wat jy wil, maar jy sit en hop. Ons sal maar sien of dit vandag ook die geval is.

Ons vaar maar net. Dis ou bekende roete wat ons nie vreeslik opgewonde maak nie. Ons wil maar net daar kom. Om seker maar net weer te sit en hop.

En toe is Baba Adası voor ons. Archie vaar versigtig tussen die eiland en die hoofland deur, want dis maar plek-plek baie vlak. Ons soek ankerplek en gooi en dit byt dat dit bars. 
Baba Adası
Hier is baie watersport in die omgewing en dit Hobie cats, wurms agter motorbote, parasailing, mense wat ski en duikers. Ons dan ons, die enigste seiljag op anker. En wat doen ons? Ons hop en hop en hop. Heel middag en heel aand. 
Watersport
Maar dis alles deel van die lewe van  seilende sigeuners. Soms moet jy maar "suffer" om by die mooi uit te kom.

Ons eet ons hoender en slaai en laat die dag toe om nag te word sodat mensekinders kan gaan slaap en die soetste drome te droom. (En ek droom die nag van oor klein Isabella, my suster Laaina, se kleinkind).

Joya del Mar.

16 Augustus 2018. Donderdag.

Roete tot op datum

Marmaris tot Joya del Mar

Hierdie was nou twee vrugtevolle dae by Marmaris se dorpshawe. Francois en Roelien is vort Griekeland toe. En Archie het baie aandag aan Maja gegee.

Ja, die ratkaskabel is reg. die versnellerkabel is vervang. 'n Nuwe ankerketting lê slaggereed in die ankerboks. Hy het twee nuwe wit goed vir die inspeksie gate gekoop. Én die VHS skeepsradio is vanoggend ingegee en herstel. Gewis 'n vrugtevolle tyd.
 
Herstelde radio
 
Nou is dit tyd om te gaan na Joya Del Mar, 2.9 myl. Dis nog steeds in die groot golf van Marmaris en ons gaan daar anker.
 
Tot siens Marmaris
Paraglider
 
Dis heerlik rustig op anker op hierdie loomwarm middag. Die water koel mens net-net af. Dis verseker nog somer hier in Turkye. Die son gaan lui onder in 'n loom-warm gloed. Nog 'n dag is verby in die pragtige Turkse landskap van berge en dale, son en see, die woonplek van die seilende sigeuners.

Sonsondergang