11 Junie 2017. Sondag.
![]() |
Eğri Limanı to Yenifoça |
Vandag is dit ’n lang pad van 33.33 myl na Yenifoça.
Ons trek die anker op en dit het regtig goed gebyt en verlaat die baai wat ons
gedeel het met die visplaasbote. Weereens vleg ons deur visplase.
Die eerste deel van die pad is rustig en die see
platterig. Ons vaar voort sonder enige moeite. Toe gaan ons op die draai en wag
vir die wind wat van die weste af moet kom, soos hulle voorspel het. Dan kan
ons seile span en met meer spoed die lang pad vinniger korter maak.
Mimas Piek |
Maar wil jy glo! Die wind kom van die Noord-Ooste, reg op Maja se snoet. Van seil span is nie nie sprake nie en ons spoed verminder drasties. En die pad langer. Die boek praat van die stuk see by die Izmir Körfezi wat ’n “confused sea” het en hy lieg nie, die see is konfoes!
Dis sukke vet golwe wat nie weet waarheen om te
gaan nie. Sukke kort golwe, soos ’n dogtertjie wat knyp-knyp vorentoe trippel-trippel
hop-hop, as sy knyp omdat sy dringend wil pieppie. Hemel en ons vaar hopelik
vorentoe! Maja se snoet tref die deinings en verander hulle tot seeskuim.
Seeskuim |
Die pad raak langsaam korter, baie langsaam.
Halfpad, ’n ewigheid verder, driekwart pad, na nog ’n ewigheid, vat ons die
draai na Yenifoça se baai. Ons was verlede jaar hier saam met Deon en Ryna.
Yenifoça |
Ons soek plek vir ankergooi. ’n Groot boot
staan vasgemaak aan ’n boei op ’n simpel
plek en ’n klein motorbootjie is ook in die pad. Ons weet egter hy sal later ry
en ons kry die bes moontlike plek en gooi. Die anker byt end it lyk of alles OK
gaan wees. Ons is bietjie naby die ou grote, maar niks ernstig nie.
Ankerplek |
Anker werk so. As die water 8 m diep is, moet jy vier maal die diepte se ketting gooi. Hoe meer ketting jy uit het, hoe minder is die kans dat jou anker sal sleep. Ek het 35 m ketting uitgegooi en Archie gooi nog 5 m uit vir die winde wat so waai. En alles lyk nog reg.
Toe draai die wind en Maja draai saam. Die ou
groot boot wat aan die boei vas is, draai anders as ons, want sy het mos nie
ankerketting uit nie, net ’n kort tou wat aan die blok onder die water vas is.
Toe begin die gemors. Ons swaai te naby aan hom en Archie trek die ankerketting
op sodat daar net 32 m in die water is. Dan is dit vier keer, dis voldoende.
Maar, o wee, ons kom nog te naby aan ou grote.
Archie trek nog ketting in, nou is daar daar 27 m in die water. Net meer as
drie keer die diepte. Gus waai met fors en ons ankerketting is so kort. Ons hou
die sake dop. Gus waai ons na die boot toe, maar dit lyk of ons nie te naby kom
nie. Dan waai Gus weer en ons is vêr van hom af. Dan naby, dan vêr.
Ou Grote |
Toe die nag kom, waai die blêrrie Gus eers erg. En ons ankerketting is so kort. Ons kyk waar kan ons gooi, maar daar is net plek in die deel van die baai waar die deinings, saam met hul perdjies inwaai. Toe is dit nagwaak. Archie vat die eerste skof tot 01:00. Ons anker hou!
Ek vat die tweede skof nagwaak tot 06:00. Ek rig
my in op die dek. Dis komberse en my kussing om my teen Gus se koue aanslae te
beskerm. Die anker hou!
Ai, wat ’n seiler nie alles moet deurgaan nie.
Alles is verseker nie aaltyd maanskyn en rose nie. Dankie, in elk geval vir die
maanskyn sonder die rose. Die maanlig het genoeg lig gegee om die swart van die
nag te versag en sien maak alles minder "scary".