10 Augustus 2016. Woensdag.
![]() |
Alakisla tot Akbük |
Praat van hoë berge. By hierdie kuslyn van Turkye troon die berge bo die see uit en toring reguit hemel toe. Dis omtrent die waarheid van Akbük Limanı, 37°01.717 N, 28°05.967 O, 24.4 myl, waarheen ons nou op pad is.
Hoë berge |
Gus is net ’n sagte sug en ons vaar en vaar en vaar voort. Maja se motor prrr eindeloos aanhoudend en eentoning. Ek kla nie, ek sê net. Seemyl na seemyl kom ons nader. Later is dit darem halfpad. Toe nog net vyf myl en toe raak ek amper agter die helm aan die slaap.
Ons vaar by die indrukwekkende baai in. Die oer-oue hoë berg staan trots op sy troon en troon bo die res van die
landskap uit. Die plek is bekend vir sy sterk katabatiese winde. Gelukkig is
Gus in Griekeland met vakansie en ons is in geen gevaar nie.
Ons gaan maak by die Doğa Restaurant kaai
vas, want ons het water nodig. Jy moet dan as betaling vir die water en
elektrisiteit by die restaurant gaan eet.
Restaurant kaai |
Ons gaan stap oudergewoonte ’n ent, maar die baai kruip weg. Nêrens kry ons ’n mooi hoë uitsig oor Akbük nie. Hier is baie kampplekke en die strande is vol mense. Dis ’n regte vakansieplek.
Bote en berge |
Visserskuit |
Swemstrand |
Saam met die skemer kom ons by die Doğa Restaurant se tafel aan. Dit is langs die see op ’n pier. Ons bestel mezes en calamari. Die kos is so-so, maar dis darem waarde vir jou geld.
Gaan uiteet |
Die uitsig op die baai en Maja van waar ons sit en eet, vergoed vir die gebrek aan smaaksensasie.
Ons tafel op die pier |
Dis vir ons baie mooi hier by Akbük Bükü. Terug by Maja gaan ek later die aand yskas toe en steel ’n trossie yskoue druiwe.